Wednesday 16 March 2011

'n Verjaarsdag

Birthday Boy

Verlede Vrydag was my verjaarsdag. Ek wou toe al daaroor geskryf het, maar die tragedie in Japan het my verjaarsdagie na so 'n onbenulligheid laat lyk. Soos een blogger dit stel:

"Ek staan weer eens verstom oor die absolute nietigheid van die mens en die irrelevansie van die daaglikse denke, obsessies en bekommernisse en ‘n kaboel ander onbelangrike kwessies waarmee ons onsself besig hou."

Ek is in stemming met sy sentament.

My broer, in 'n e-pos om my geluk te wens, het dit natuurlik anders gestel, soos net familie kan:

"Ek wens jou alle sterkte toe, en wens jou God se seen toe. Jou verjaarsdag is nou gelink aan iemand se dood die dag voor dit, en 'n natuurramp in Japan."

'n Vriendin van hom se ma is die vorige dag aan kanker dood en daarom dan is my verjaarsdag weens kronologiese nabyheid -- ten minste in sy gemoed -- nie net verbind aan die Japanese tragedie nie, maar ook aan die tannie se afsterwe.

In elektroniese korrespondensie met 'n vriend moes ek erken dat:

"Ek moet net nie te veel dink oor Alexander die Grote nie en dat hy die bekende wêreld teen 32 verower het nie."

En voeg toe sommer ewe astrant by:

"Ek's darem op een manier beter is Alex. Ek het 33 gehaal . . . hy nie."

Soos verlede jaar het ek maar gewerk op my verjaarsdag soos dit 'n volwassene betaam. Op Vrydae het ek nie 'n swaar werkslas nie. Ek gee twee redelike maklike klasse -- al te saam drie ure lank. Anders as verlede jaar was daar nie 'n verassende wit kombers oor die Koreaanse landskap net -- daar was slegs die koue. Soos twee jaar gelede moet ek bieg:

"[M]y selfbeeld is gesond, ek is emosioneel en finansiëel onafhanklik. Ja ek sukkel nog met baie van die ou sondes van toe, maar nou is ek darem vertroud met my demone."

Ek is inderdaad in 'n plek in my lewe waar ek redelik goed vertroud is met myself.  Ek weet wat is my goeie punte; ek weet veral waar is my swakplekke. Dit is 'n deel van ouer word waaroor ek dankbaar is. Nie dat hierdie kennis my enigsins help om die "ou sondes" en "demone" te oorkom nie, maar ten minste skok hulle my nie meer nie. Ek is bewus van hulle onwelkome teenwoordigheid en weet al te goed dat ek nie "al te goed" is nie. Dit bring 'n nederige eerlikheid tot gevolg. 'n Eerlikheid wat selfvoldaanheid en selfgeregtigheid vinnig in die bek ruk.

Passion 5 Bakery
Die middag van my verjaarsdag het ek besluit om 'n oulike bakery waarvan ek gehoor het, genaamd Passion 5, te gaan opspoor. (Sien hier vir Google Maps aanwysings in Koreaans.) Ek vra toe sommer twee kollegas -- een van my departement en een uit 'n ander departement (hulle is vriende) -- of hulle lus is om saam te gaan vir 'n middag van gebak-verkenning. So bederf ek myself toe met allerande lekkernye. (Ek het hulle nooit gesê dis my verjaarsdag nie -- ek was nie lus vir die onnodige aandag nie. Een van my klasse het in elk geval vir my gesing vroeër die dag. Dit was genoeg joligheid wat my konstitusie kon hanteer vir een dag.)

Die volgende dag is ek genooi vir middag ete by my "African American mom". Sy het 'n paar mense genooi en lekker kosgemaak. Gewoonlik reël ek self  'n verjaarsdagkuiertjie, maar hierdie jaar was ek nie lus om enige iets te reël nie. Die Sabbatmiddagete was baie aangenaam al was die mederheid van die mense teenwoordig nie juis vriende nie. Daardie aand het ek die heel aand 'n Koreaanse reeks wat ek verlede jaar begin kyk het op my rekenaar gekyk, totdat ek die laaste episode so net voor sonsopkoms klaar gekyk het.

So tel die jare af . . .

No comments: