Wednesday 23 March 2011

Wie se name onthou ek eerste

Ek het 'n skokkende neiging ontdek in hoe ek my studente se name onthou. In volgorde:

1. Ywerige studente


Ek is geneig om die ywerige studente wat gewoonlik voor in die klas sit se name eerste te onthou.


2. Ekstroverte


Die ekstroverte studente wat gretig is om te gesels is nie noodwendig die die A+ studente nie. Nietemin, omdat hulle so sosiaal is en nie wegkruip agter Konfusiaanse aangeplakte skaamkry nie, onthou ek makliker hulle name.


3. Aantreklike studente


Ek voel glad nie trots op hierdie kategorie nie, maar dis ongetwyfeld 'n neiging wat ek opgelet het en wat ek nie kan ignoreer nie. Ek onthou beslis die aantreklike studente se name makliker. Dit laat my geweldig oppervlakkig voel.


4. Die teenoorgesteldes


Die besonderse lui, alewige laat, en onaantreklike studente is ek geneig om ook vinnig hulle name te leer. Ook erge lelike studente herken ek vinniger.


Wat oorbly is die algemene, medioker, niks-uitsonderse, skaam, stil, lui studente. Ek onthou hulle name aansienlik later as die ander. So wat is die les? Dit blyk eintlik eenvoudig te wees; as jy wil hê ek moet jou naam vinnig leer en onthou, trek my aandag. Jy kan dit op 'n positiewe manier doen soos om ywerig te wees, of op 'n negatiewe manier, soos om alewig laat te kom vir klas, maar solank jy my aandag op 'n manier trek sal ek jou naam vinnig leer ken.

2 comments:

Anonymous said...

:-D Dit is presies die volgorde waarin ek my studente se name ook leer :-D

Ek weet nie of dit goed of sleg is nie, maar ten minste ken ek 'n paar van hulle teen die einde van 'n semester.

Skryfblok said...

Dit laat my beter voel om te weet dis moontlik 'n algemene patroon en nie net ek nie! ;-D