Sunday 27 February 2011

Ek's by die huis -- 'n skokkende ondekking

Oppad met die bus vanaf Incheon lughawe na my woonstel tweet ek die volgende:

"On a shuttle bus on my way home from the airport. Did I just now refer to "Korea" as home? . . . I guess I did."

Ondanks my byna twee maande se kuier in Suid-Afrika, verwys ek na my woonstelletjie, my lewe hier in Korea as "home". Is dit waar ek tuis is? 


Wanneer ek in Suid-Afrika is, is daar dinge van Korea wat ek mis. Terwyl ek in Korea is, is daar dinge van Suid-Afrika wat ek mis. Hierdie laaste twee weke in Suid-Afrika, nadat ek duisende kilometers rond gerits het van een provinsie na 'n ander, van een stad tot 'n ander, van een vreemde bed, vreemde stort, vreemde handoek, tot 'n volgende onbekende een, is ek verlig om terug te wees in my eie woonstel. Ek het my plekkie, my spasie baie gemis. My "home" met my eie bed en stort en hangkas en eie bekende kosse in die yskas. Ek's bly om my eie huisplante te sien en dit was 'n lekkerte om hulle water te gee. My woonstel is vuil. Dis stowwerig en deurmekaar. Maar dit is okay, want dis my stof en my gemors. Dinsdag is 'n vakansiedag in Korea, dan gaan ek bietjie aan die kant maak.

Ek's terug. Ek's by die huis.

Ek weet my verblyf in Korea is ook maar net 'n tydelike een. Nietemin, vir wat dit werd is, geniet ek my huidige nessie, al is dit vir geen ander rede as dat dit my nessie is nie. 



No comments: