Tuesday 1 November 2011

Die plaas

Pierneef, "Plaas naby Derdepoort"
Beeldbron: Litnet
Ek wou 'n skrywe geskryf het oor my verlange na die plaas vandag, maar toe onthou ek dat ek reeds so 'n skrywe gemaak het sowat twee jaar gelede. As ek vandag die skrywe sou skryf, sou dit basies 'n woordelikse herhaling gewees het van wat ek toe geskryf het: Ek verlang na die plaas. Die plaas bestaan nie meer nie. Daar is dus geen lafenis aan my verlange nie.

In die verlede, nadat ons plaas onteien is, het ek darem weekliks 'n draai by een van my vriende wat ook toe nog op plase gebly het, gaan inloer. Op 'n Vrydagmiddag het ek saam met Howard die beeste gaan haal en kraal toe gejaag of oor 'n naweek het ek by Jaco gaan kuier en ook so tussen bees of skaap gaan stap. Vandag bly albei van hulle in dorpshuise.

My broer bly op 'n plot. 'n Plot is seker beter as 'n dorpshuis omdat daar darem diere op die plot is: perde, hoenders, honde. Maar 'n plot is nie 'n plaas nie en ek verlang na die plaas. Groot oop stroke veld. Doringbome. Reuse bloekoms. Klipperste klip. Rooi grond. Suid-Afrikaanse blou hemele. Kiewiete wat raas as jy verby stap.

Ek sit in my kantoor in Korea en merk vraestelle. 'n Kantoor is beslis nie 'n plaas nie. En Korea se plase is nie soos Suid-Afrika se plase nie.

2 comments:

BoerinBallingskap said...

Ek stem saam oor die gevoel omtrent die plaas. Ek dink dis maar 'n groot deel van Afrikaner/Suid-Afrikaner wees. Hoekom is julle plaas onteien, as ek mag vra?

Skryfblok said...

Die plaas was teenaan Sebokeng en Evaton, twee swartstede. Die stede het nie bestaan toe my pa destyds die grond bekom het nie. In elk geval, hulle het so ontwikkel dat hulle later letterlik bo-oor ons ontwikkel het. (Met "ontwikkel" bedoel ek vergroot, nie noodwendig verbeter nie.) Die regering het basies die grond onteien vir lae koste behuising. Dit is al wat nou daar is so ver as die oog kan sien: plakkershutte en vuurhoutjiebokshuisies.

Nie 'n baksteen van die plaashuise (daar was drie!) is oor nie. Die groot swembad wat as 'n wonderlike gemeenskapswembadjie kon dien is in 'n vullishoop verander. Die vrugtebome en ander bome is ontwortel en seker gebruik vir vuurmaakhout. Die krale is nie te sien nie. Toe ek 'n paar jaar gelede daar was, was ek bly om te sien dat ten minste een skuur nog staande is en darem gebruik word -- 'n enterpreneur gebruik dit as sy paneelklopperwerkswinkel. Daar is ook nog die murasie van 'n ou silo. Ek weet nie waarvoor dit ingespan word nie, maar hoop maar dat dit darem benut word.

'n Paar kilometer verder langs 'n ou krankige pad het ek 'n wonderlike ding gesien. Blomme. Blommer wat eens in ons tuin gegroei het. Dit was vir my 'n simboliese oomblik. Die tuin bestaan lankal nie meer nie. Daar is niks daarvan bespeur nie. Tog, het van die blomsade hulself elders gaan inwortel. Dit herinner my effe aan myself hier in Korea en my oudste broer in Engeland.

Life goes on...