Dis 1998 of 1999. Ek het ’n klomp gekleurde karton in die hande gekry. Dis snipperye van profesionele monteringsborde vir die raamwerk van skilderye. Ek hou veral van die donker kleure – maroen, vlootblou, diep oker – en eksperimenteer met my poeierpastelle. Ek “skilder” wilde diere: bokke en katte en voëls.
Ek wys vir my Pa een prent. Dis ’n roofdier – ’n arend of jagluiperd. Ek kan nie meer onthou nie en dit maak nie regtig saak nie. Pa sê, dis goed. Dis al wat hy sê. Nie dis goed, maar jy oefen nie genoeg nie; nie dis goed, maar jou nefie het meer talent nie; nie dis goed, maar dit lyk nog nie eg genoeg nie; nie dis goed, maar. . . Net dis goed. En ek dink dit was die eerste keer in my lewe dat dit nét goed was.
Ek stap kombuis toe. My ouer broer is daar, sien die trane in my oë en vra wat is fout. Niks nie. Ek huil want ek’s gelukkig.
No comments:
Post a Comment