Die eerste week van elke semester is altyd dol. Ek voel so bietjie soos 'n kind wat net begin leer swem sonder sy armbalonne. Dis nie dat die werkslading in die eerste week dramaties erger is as die res van die semester nie. Inteendeel, die eerste weer vereis eintlik aansienlik minder klasgee aangesien die eerste klasse hoofsaaklik gebruik word vir orientasiedoeleindes: wat is die doelwitte van die klas, watter handboek gaan ons gebruik, hoe word die punte geweeg, hoe kan die studente 'n afspraak met my reel, ensomeer. Nogtans voel die eerste week soos die aanbreuk van 'n klein oorlog. Dit is Donderdag en ek is reeds uitgeput en voel huimweerig na die vakansietyd.
Daar is twee dinge wat hierdie week veral moeilik vir my gemaak het. Eerstens 'n slegte griep. Ek het lanklaas 'n ordentlike griep gehad, met 'n gehoes en proes en 'n olike lyf. Ek is seker dat 'n verskeidenheid stressors my immuniteit af het--nie dinge wat ek noodwendig nou wil deel met die wereld nie. Die ander ding is die trek in 'n nuwe kantoor in. Die nuwe kantoor is natuurlik heel aangenaam, maar so 'n getrekkery is nogals stresvol en 'n mens besef nie watse politiek in die agtergrond gebeur nie. Selfs ek was heel onbewus van die onderliggende gekibbel wat aan die gang was.
More (Vrydag) is 'n openbare vakansiedag in Korea. Ek is erg dankbaar en gaan probeer om laat te slaap. Ongelukkig kort my woning 'n bietjie aan die kant maak, skottelgoed het opgehoop, wasgoed moet gewas;,so ek kan nie die hele dag in die bed bly en flieks kyk nie --- anders het ek dalk.
No comments:
Post a Comment