Vanmiddag gaan maak ek 'n draai by 'n vriend se plek. Ek sien daar is 'n afbakening, maar die klim-en-klouterkabouter wat ek is steur my nie aan sulke dinge nie en tjoef-tjaf is ek daaroor. Aan die anderkant bekyk ek die wereld en wonder waar die mense is, en voel toe hoedat die vloer onder my plakkerig is. Dis toe dat ek sien dat ek sopas in nat sement geland het en aaklike spore daarin laat. Die afbakening was dus om mense soos ek van die nat sementvloer te hou. So vinnig soos ek daar beland het, spring ek terug oor die obstruksies en glip weg sodat niemand my met bloed op die hande betrap nie.
Ek voel baie skuldig oordat ek my vriend se mooi vloer so aangerand het met my growwe skoensole. Ek voel veels te sleg om hom te bel en te vertel dat ek die skuldige een is. Ek is te bang vir sy woede en / of telleurstelling. Die gedagte dat hy more oggend by sy voorportaal gaan aankom en die blekke sien en die ontsteltenis wat dit hom gaan veroorsaak is genoeg om my 'n slapelose nag te gee en wanneer ek hom Vrydag sien gaan ek waarskynlik bloos en hakkel in sy teenwoordigheid.
Moet ek my ergelike skuld aan hom onthul, of moet ek maar eerder die geheim saam met my (en die Internet) na die graf dra? Gelukkig verstaan my vriend nie Afrikaans nie en is dit hoogsonwaarskynlik dat hy hierdie brokkie skuldverklaring onder oe gaan kry. Maar wanneer ek weer een Sondagaand saam met hom in 'n Bybelstudie is en die Heilige Gees langs ons op die bankie kom sit, wat gaan ek dan doen? Die vernedering is sterk bitter soos Ghanese koffie. (My vriend hou van koffie.)
No comments:
Post a Comment