Sunday 3 October 2010

Ek verlang

Ek moet bieg dat ek verlang nie na Suid-Afrika nie. In al die jare wat ek in Korea bly het ek nooit benoemenswaardige huimweë gehad nie. Ja ek verlang op tye na geliefdes, maar nie na Suid-Afrika as ’n plek nie. Wel dit is, tot onlangs. Die laaste week of so het ’n grootskaalse verlange na ’n baie spesifieke aspek van Suid-Afrika my getakel met ’n driflike ywer, naamlik die Afrikaanse kunskultuur. Dit was nie tot twee dae gelede dat ek met iemand in Suid-Afrika gesels het en die persoon aan my onthul het dat Aardklop Kunstefees aan die gang was die afgelope week, dat ek bewus was van die onlangse kunsinnige joligheid in my “buurt” nie. Op ’n interesante intuïtiewe manier het ek op ’n metafisiese vlak geskakel met daardie kreatiewe gees wat in Potchefstroom gevibreer het. So erg was my verlange na hierdie kreatiewe Afrikaanse-subkultuur dat ek vir my twee Afrikaanse plate vanaf Rhythm Music Store (mymusiek.co.za) afgelaai het: Van Coke Kartel se “Skop, Skiet en Donner” en Glaskas se “Revolusie Romantiek Ruk en Rol,” waarna ek met lekker geesdriftigheid die laaste paar dae luister.



Die persoon met wie ek telefonies gepraat het, was my X. Dit ook heeltemal toeval nadat ek net die vorige uur met ’n oudkollega gesels het oor verhoudings en hoe moeilik dit vir my is om iemand te vind wat by my pas. Om ’n meisie te kry is nie moeilik nie, maar om werklik iemand te kry wat by ’n mens pas, wie versoenbaar is met jou leefwyse, godskonsep, diëetvoorkeure, waardes, ensomeer, is glad nie maklik nie. Gedurende die gesprek met my oudkollega het ek gepeins oor hoe verbasend goed ek en X, wat die voorgenoemde aspekte betref, gepas het. ’n Hoofrede hoekom ons verhouding nie gewerk het nie, is ’n ou tema in my liefdelewe – slegte tydsberekening. Ek het reeds die werk in Korea aanvaar nog voordat ons ernstig geraak het; gevolglik was ons afsonderlike lewens nie genoegsaam in pas met mekaar om ’n verhouding te laat werk nie. Ons het aanvanklik die langafstandding oorweeg, maar dit het duidelik geraak dat dit, onder huidige omstandighede, nie werkbaar was nie.

My gesprek met haar was beslis nie beplan nie. Ek het eintlik haar grootouers geskakel, my “aangenome” ouma en oupa. Sy was ter loops by hulle huis terwyl hulle uit was (hulle het ’n Aardklopvertoning gaan kyk) en het toevallig die telefoon geantwoord. Met haar “hello” en my “hello” was daar onmiddelike weedersydse herkenning, ’n oomblik se hartklop-misklop, en gelyktydige verassingsvolle “haai!-hoe-gaan-dit-met-jou!” Dit was ’n heerlike vrolike gesprek omtrent mekaar se welstand, doen-en-late, en eventueel ook liefdeslewe. Die afwesigheid van enige romantiese aktiwiteit in mekaar se lewens het ’n vreemde gelukkigheid in beide aanhoorder van hierdie “slegte” nuus te weeg gebring: “Ek is so bly om te hoor dat jy ’n droeë liefdeslewe het en ek bedoel dit op ’n mooi manier.” Tyd het ou wonde genoegsaam genees dat ons in mekaar se telefoniese geselskap slegs die mooi dinge kon onthou en na sowat veertigminute van uiters aangename gesprekvoering—ou vriende wat weer opvang, lou kole wat weer vlamvat—’n nasmakie kon hê van die goeie tye toe ons nog bronstigverlief was.

Ek mis Suid-Afrika.

1 comment:

Unknown said...

Ek sou ook nie Suid-Afika mis nie, net die mense en kultuur. Dinge is baie erg hier die afgelope tyd. Hou jou kultuur lewendig! Die Koreaners, Sjinese,Japanese ens weet baie van kultuur af, iets wat alty voort moet bestaan. Sterkte en groete van SA.