Dit is vandag my ma se verjaarsdag. Sy sou 66 gewees het en as sy nog geleef en gesond was, sou sy goed gelyk het vir 66. In haar laat veertigs en vroeg vyftigs het sy haar jare gedra soos ’n dertigjarige.
Ek mis haar soms. Gelukkig is die lewe genadig deur ’n mens besig te hou met allerande dinge. Indien nie sou ’n mens heeltyd verlang het na die wat vêr of dood is.
Daar is tye wat ek graag met my ma sou wou gesels oor dinge. Verhoudingsprobleme is ’n voorbeeld. Ek onthou toe ek en my X nog saam was, was daar ’n paar geleenthede wat ek erg graag met ma oor wou praat. Nou steeds. Ek sou onder andere met haar wou gesels oor pasbaarheidskwessies – die feit dat dit moeilik is om ’n (vroulike) maat te kry wie by my pas. My eienaardighede, belangstellings, lewens-en-wêreldbeskouing, Godsiening, ensomeer maak dit geensins maklik om iemand te kry by wie ek pas nie. Buiten vir die pas wat hierdie abstrakthede betref, wat nog van seksueel-pas?! Soms ontmoet ek dames met wie ek op van hierdie bogenoemde dinge in stemming is, maar daar is geen seksuele vonk nie. En soms is daar die vonk, maar niks om ’n verhouding op te bou nie. Oor hierdie tipe dinge sou ek graag met my ma wou gesels. En soms is daar dinge wat ’n seun by sy ma oor wil spog. Ek kan nie vir dogters praat nie, maar as ’n seun is daar ’n differensie tussen dinge wat ek by my ma sou wou spog, en wat ek by my pa sou wou spog.
My ma se dood het nie vinnig gebeur nie. Steeds kan ek nie sê dat ek voorbereid was op haar afsterwe nie. Ja ek was voorbereid, in die sin dat die nuus van my ma se dood het my nie geskok nie. Sy was toe al baie jare siek en het skielik dramaties agteruit gegaan. So boos as wat dit mag klink, ek het baie keer gedink dat die dood ’n genadige oordeel vir haar sou wees. Haar siekte het haar so geweldig afgetakel dat sy ten laaste bitter min van haar eentydse glorie gehad het. Ek het haar sowat ’n week of twee voor haar sterfte gesien. ’n Bondeltjie, ’n verlepte hopie op ’n bed – skaars instaat om ’n verstaanbare sin te maak. Hierdie is ’n vrou wat kon praat. Ek meen PRAAT. Sy’t nie gehuiwer om haar sê te sê nie. Reguit en op die man af. Sy’t gebewe; ’n koue koors. Haar gesig vaal en haar hare wat eens ’n blossende wol rooi vlamme was, was nou yl, bros en grys. Ek het my rooikop by haar geërf. En haar glimlag – daar was geen glimlag meer nie. Die pyn, die verlies, die hartseer, die totale aftakeling het haar glimlagplooie vervorm tot plooie van verdrietigheid. Ek mis my ma se glimlag. Ook my glimlag het ek by haar geërf.
Dit is vandag my ma se verjaarsdag. Sy sou 66 gewees het en as sy nog geleef en gesond was sou sy goed gelyk het vir 66. En ek sou haar gebel het en dit vir haar gesê het.
1 comment:
I often think of my dad... i comfort myself and say someday we will be reunited.....Take courage and know that someday you will see her...Lots of love
Post a Comment