Dis half agt in die oggend. My selfoonwekker het 30 minute vroeër gelui. Ek is op, maar voel mislik. Vir meer as ’n maand het ek byna nooit voor tien die oggend opgestaan nie en my biologiese klok was heel gelukkig met daardie roetine. Vir die laaste twee weke het ek wel my wekker gestel vir sewe die oggend, maar het natuurlik dit bloot afgesit sodra dit gelui het, en dan op die ander sy gedraai. Aangesien die semester hierdie week amptelik begin het, kan ek nie sulke streke doen nie. So beide gister en vanoggend, en vir die res van die semester, gaan ek nie op my ander sy draai wanneer die wekker lui nie, maar ag gee op die selfoon se kerm, en opstaan. Op ’n Dinsdag het ek eers klas teen tien uur die oggend. Nietemin, om my roetine stabiel te hou gehoorsaam ek die oggendalarm en rol teen sewe gedwee uit my bed, met ernstige interne protes.
Ek wil regtig weet of oggendmense en aandmense ’n normale ding is. Daar is duidelik die twee spanne: oggendvoëls en nagwolwe. Maar is die laasgenoemde ’n natuurlike fenomeen, of is dit ’n afwyking. Behoort almal nie vroeg op te staan met die aanbreek van die oggendson nie? Hoekom word ek nie moeg in die aand nie, maar kry as’t ware ’n tweede asem rondom tienuur die nag? Ek is seker die mens is nie bedoel om ’n nagdier te wees nie – ons oë en pupille is nie groot genoeg nie. Maar aai, as daar nou een mens is wat ’n nagmens is, dan is dit ek. Hierdie gesewe-uur-in-die-oggend-opstaan-ding is nie vir my nie.
’n Paar jaar gelede het ek ’n ander job gehad wat sesuur, of ses-dertig, in die oggend begin het en moes gevolglik voor ses uit die vere. Sjoe, was ek toe vir jou mislik!
No comments:
Post a Comment