Sunday, 17 May 2009
Onderwysersdag, koorkonsert, akademiese blaadjie, doelwitte en pro-aktiewe depressie bestuur
Nog ’n naweek daarmee heen. Verlede Vrydag was “Teacher’s Day” in Korea. Om 12:00 moes ons dosente in ’n vertrek bymekaar kom waar sowat ’n 100 studente vir ons gesing het – die spesiale “Teacher’s Day”-lied. In Korea is daar allerande spesiale dae, van voorvadersdag tot kinderdag, van sjokelade dag tot roosdag; en byna elke dag het ’n temalied.
Tydens Vrydag se Onderwysersdag het ons het ook presentjies gekry. In my geval Dunhill-cologne. Dit ruik aangenaam, maar bietjie seperig. Ek het ook gesondheidstee by een van my studente gekry en ook ’n plakkaat met kort briefies deur van die studente. Onder andere boodskappies soos: “Teacher, I love you” (probeer seker punte score), “Teacher, don’t shave your beard” (ek skeer een of twee maal per week, bloot weens luiheid, maar dit blyk dat sommige van die studente daarvan hou) en “Teacher, I like your 19th century poetry class” (ek ook).
Saterdag, soos my gewoonte, is ek kerk toe en agterna het ek saam met kollegas middagete geniet en lekker gesellig verkeer. Die aand was daar ’n koorkonsert. Een van my studente het my uitgenooi. Ek wou eintlik die jazz-fees in Seoul gaan by woon het, maar aangesien die studente my nou al weke van te vore genooi het na die koorkonsert toe, kon ek nie wegbly nie.
Vandag, Sondag, het ek laatgeslaap en toe die meeste van die dag spandeer om die bladuitleg vir P~YP! te doen. P~YP! is ’n blaadjie wat nagraadse studente aan die Skool vir Tale aan my Alma Mater begin het, en deur die skool se navorsingseenheid gesupsideer word. Ek is op die redaksie. Ek het ook vanaand die Duitse film Der Untergang (2004), oor die laaste paar dae van Hitler se lewe, gekyk: goed, ontstellend.
Wat ek nie gedoen het nie, maar wat ek graag wou doen, is om die hoop semestertoetsvraestelle van my 19th Century Poetry klas te merk.
Iets wat ek ook nog nie gedoen het nie, maar wat ek hoop om wel nog vannaand te doen, is om my “rolle” te identifiseer en kort-, middel- en langtermyndoelwitlyste op te stel. Dit gaan waarskynlik net raamwerklyste wees, maar ek het nodig om my gedagtes te fokus. Dis lente. En soos klokslag kom ek agter dat daar vroeë seisonale depressie simptome is. Een manier om hierdie kroniese jaarlikse demoon te beheer is om duidelike doelwitte te hê. Spesifiek wil ek vanaand ook begin om weer weeklikse doelwitte uit te klaar. (Daaglikse doelwitte is te regied en maak nie voorsiening vir die wispelturigheid van die lewe nie, en maandelikse doelwitte is nie daadwerklik genoeg.) Ander maniere om my gemoed positief te hou in “hierdie tye” is om seker te maak dat ek genoegsaam sonlig kry. Oefening is ook baie belangrik. Soos ek sê, ek is bewus van vroeë seisoenale simptome; dis nog nie ’n depressiewe episode nie en kan dus nog met eenvoudige lewenskeuses en –gewoontes in die bek geruk word.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment