Friday 9 January 2009
Nee, dus nie ’n hus met langore nie.
Glo dit of nie, maar ek het op ’n plaas grootgeword. Ek en my ouer broer is ook natuurliefhebbers en het graag na diereprogramme gekyk, of langure spandeer in diereboeke. As sulks het ek baie babagedroggies gesien. Op ons plaas het ek al die gewone plaasbabas beleef: kalwers, skaap- en boklammers, perd- en donkievullens, kuikens en baba-eendjies en -gansies en konyntjies en varkies, natuurlik ’n spul werpselhondjies en -katjies, selfs babarotte, en dan nog die minder gewone diertjies: nonnetjiesuil-, pou-, papagaai- en tarentaalkuikens, babaverkleurmannetjies en babakrimpvarkies en babamolslangetjies. En dus net die gedroggies wat ek in lewende lywe op ons plaas gesien het. Dan is daar nog die babamonstertjies wat ek op ander plekke gesien het: babaspringbokkies, blouaapbabas, nagapiebabas, kameelperdjies, olifantjies, zebratjies, renostertjies, leeuwelpies en die lys gaan aan. Nie eens te praat van al die volksvreemde skepseltjies wat ek op TV of in boeke gesien het.
Maar nog nooit, nie in al hierdie jare van bestaan nie, nie in die regte lewe, of op TV, nóg in boeke, het ek ’n baba-aardvarkie te sien gekry nie – ondanks die feit dat die aardvark inheems is aan (Suid-)Afrika. En nou, hier kry ek dié kabouter te sien op die Internet, en dit nogals ’n Amerikaansgebore aardvarkie.
Van al die geörgies wat ek al in my lewe gesien het is ’n baba-aardvarkie sekerlik een van die lelikste goetertjies wat bestaan. En ôk oulik, natuurlik. Sulke lelike babadiertjies is altyd oulik.
Kyk daai ore! Ek vermoed dus ietwat hoe ’n hus moet lyk.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment