Friday 15 October 2010

SA Nuus en Internetmedia-aflaaiprogramme

Weens my geografiese verwyderdheid en besige skedule is dit moeilik vir my om ophoogte te bly met wat in Suid-Afrika gebeur. Soms as ek kans het maak ek 'n draai by News24, maar dit is maar baie sporadies.

My oplossing -- iets wat ek baie jare terug begin het -- is om elke week na RSG se Sondagaand nuusprogram, Kommentaar, te luister. Kommentaar is 'n uitstekende weeklikse program waartydens 'n paneel van kenners, soos nuusredakteurs, politieke analiste en joernaliste, saam gesels oor die hoofnuusgebeure van die afgelope week. Deur na Kommentaar te luister kry ek in 'n halfuurspasie 'n opsomming van die belangrikste Suid-Afrikaanse (en soms ook buitelandse) nuus, sowel as ingeligte kommentaar deur mense wat hierdie nuusstories binne die groter konteks plaas.

Kommentaar saai uit om agt uur in die aand in Suid-Afrika, wanneer dit drie uur in die oggend in Korea is--'n baie ongeleë tyd vir my. Gelukkig het RSG podgooie (podcasts) sodat ek gerieflik die program kan aflaai vroeg in die week en daarna kan luister later in die week wanneer ek tyd het.

Die meeste mense gebruik iTunes as hulle podgooi-aflaaier. Ek het 'n snaakse fiemiesgeid wat my verhoed om iTunes te ondersteun; ek pes monopolieë--vernaam daardie wat die heeltyd advertensie vir jou flits--en weier dus om iTunes te gebruik. Toe ek nog Windows XP as platvorm gehad het, het ek die podgooi-aflaaier Juice gebruik. Juice is 'n baie gerieflike gratis programmetjie wat my podgooibehoeftes met gemak hanteer het. Ongelukkig is dit nog nie vir Windows 7 aangepas nie.

Ek het 'n ander media-aflaaier wat ek hoofsaaklik as my Internetvideo-aflaaier gebruik, naamlik Miro, voorheen bekend as Democracy Player. Miro is 'n wonderlike program wat ek al vir jare gebruik omdat dit aan jou verskeie video-kanale op die Internet bied waarvandaan jy goeie gehalte gratis televisiestyl programme kan aflaai. Die jongste weergawe van Miro laat ook nou oudio-podgooie toe, so ek gebruik dit nou sommer om Kommentaar mee af te laai. Ek gebruik Miro ook om baie van die preke waarna ek luister outomaties af te laai, sowel as nuusprogramme soos Democracy Now. Ek besit nie 'n televisie nie en het ook nie 'n behoefte aan een nie. Ek hou ook van Miro se volumeverhogingkapasiteit. Baie keer as 'n mens video op 'n rekenaar kyk is die klank onaangenaam sag. Miro het 'n ingeboude volumestroomversterke ("sound booster") wat hierdie probleem oorkom -- soveel so dat ek gewoonlik Miro se klank sagter moet stel. Dis nie my enigste videospelerprogram nie, maar dit werk uitstekend vir sekere video en podgooie.

No comments: