Monday 18 March 2013

'n (Sjinese) Verjaarsdag, klasdraf, 'n verstandtand en 'n romantiese zombie-fliek

Verlede week was my verjaarsdag. Ek dink volgens een of ander psalm in die Bybel het ek nou die helfde van my lewe geleef. So 'n mylpaal behoort gevier te word. Ongelukkig was daar geen geleentheid vir partytjie hou nie. Op dieselfde dag wat my verjaarsdag was, het ek van bitter vroeg tot goed laat klasgedraf. My doktorsgraadklasse is almal op eendag in geprop (ek kan slegs eendag per week by my werk afkry). Aangesien die universiteit waar ek studeer in 'n ander stad is moet ek reeds vroeg uit die vere en op die pad wees. Ek is juis tans oppad terug huistoe en sit op 'n bus en tik op my skootrekenaar. Die laaste klas het vanaand rondom 21:00 klaar gemaak, wat beteken dat ek so teen 23:00 tuis sal wees. En dit is 'n goeie aand--klasse is drie ure lank en die laaste klas wat om 19:00 begin kan by regte tot 22:00 aanhou, in welkgeval ek eers rondom middernag by die gaan kom.

Omdat ek verlede week my verjaarsdag gemis het, kry ek skielik die blink idee oor die naweek om my verjaarsdag op die Sjinese maankalender te volg eeder as die Gregoriaanse sonkalender. Baie Koreane vier hulle verjaarsdag op die maankalender eerder as die sonkalender. Ek gaan toe op 'n wilde soektog om uit te vind op watter dag is ek gebore volgens die Sjinese kalender en sien toe dat ek op die derde dag van die tweede maand gebore is. Die derde dag van die tweede maand val hierdie jaar op verlede Donderdag. Maw, ek het oor daardie geleentheid om my verjaarsdag te vier gemis.

So wat het ek verlede Donderdag gedoen? Wel, ek het 'n kiestand wat my al 'n rukkie lank pla en besluit toe verlede Donderdag om die tandarts te besoek. Nadat hy 'n X-straal van my kies geneem het kondig hy aan dat dit 'n verstandtand is wat die moeilikheid maak en dat ek dit sal moet verwyder, nou is goed. En toe sommer net daar en dan, sonder enige emosionele voorbereiding verloor ek 'n verstandtand, so op my Sjinese verjaarsdag. Getraumatiseerd besluit ek toe dat ek nie Taekwon-Do gaan oefen nie (nie met 'n seermond nie) en dat ek 'n fliek gaan kyk.


Die fliek was "Warm Bodies" -- 'n romantiese komedie met zombies. Die interesante ding vir my was toe ek so derde deur die fliek besef dat dit sowaar op Willem Bewespies se Romeo & Juliet gebasseur is. Toevallig is een van die klasse wat ek op universiteit aanbied "Shakespeare Films". Ek gaan beslus "Warm Bodies" in my kurrikulum insluit volgende jaar.

No comments: