Source: Associated Press |
“Ek wens jou alle sterkte toe, en wens jou God se seën toe. Jou verjaarsdag is nou gelink aan . . . 'n natuurramp in Japan.”
As dood dan wel beskore is om met my verjaarsdag vereenselwig te word, dan kies ek eerder dié van Dr. Peter Goodwin, 'n Suid Afrika-geborene, wat vanjaar op my verjaarsdag tot sterfte gekom het met behulp van wettige bygestaande selfmoord, in die Staat van Oregon, VSA.
Dr. Peter Goodwin: "I don't want to go out with a whimper, I want to say goodbye to my kids and my wife with dignity. And I would end it . . ." |
Dr. Goodwin was lank 'n kampvegter vir bygestaande selfmoord vir terminaal gediagnoseerde pasiënte in sy tuisstaat, Oregon, wat in 1994 oor die kwessie gestem het. Die resultaat was die wettiging van die “Death with Dignity”-wet in dié Amerikaanse staat. Dr. Goodwin het ook gehelp met die stigting van die organisasie Compassion and Choices wat terminaalsiek pasiënte en hulle families ondersteun en veg vir die keuse om met waardigheid te sterf.
Dis maklik vir mense wat nog nooit ware pyn en lyding in die oë gestaar het nie, wat nog nooit direk gesien het hoe 'n siekte 'n mens se menswaardigheid kan stroop nie, wat nog nooit beleef het watse las dit beide finansiëel en emosioneel op die geliefdes is, en gevolglik watse erge skuldgevoelens en droefheid dit in die pasiënt opwek nie, om bloot botweg bygestaande selfmoord as verkeerd te verklaar. In hierdie konteks is bygestaande selfmoord nie net 'n vorm van genade dood nie, dis 'n laaste uitvoering van 'n mens se Godgegewe vryekeuse—'n laaste oomblik van menslike waardigheid.
Ek kan hoor hoe roep party (Christenne) uit: “Dis nie Godgegewe vryekeuse nie! Dis sonde!” Om die lewensgeskenk weg te gooi is moontlik 'n sonde, maar die terminaalsieke gooi nie sy of haar lewe weg nie. Daardie lewe is reeds tot 'n einde. In 'n ander tyd sonder vandag se mediese vooruitgang sou so 'n persoon waarskynlik baie vroeër gesterf het.
Simson pleeg selfmoord in die Tempel van Dragon wanneer hy die steunpilare omgooi en die gebou op homself en die teenwoordige Fillistyne laat val. Skildery deur Giovanni Benedetto. |
Op die ou einde is dit inderdaad Sonde wat lei tot sterfte—volgens die Heilige Geskrifte was dit daardie eerste Oersonde wat tot die dood gelei het, en dis ons ingebore sonde en die vloek van sonde oor die hele Skepping wat konstant elke mooi ding verwring, elke spesiale ding verweer, elke goeie ding verknog en alles tot sterfte dwing. Gun 'n mens tog, in so 'n gebroke wêreld, die keuse om met waardigheid te sterf! Moet nie vir 'n oomblik vir my probeer maak glo dat God behae het in 'n onnodig uitgerekte lang siekbed en gepaardgaande marteling nie. As ons mense, wat inherent sondig is, die wysheid kan insien om 'n siek dier se leiding te verkort, laat ek my nie vertel dat God van ons verwag om hopelose leiding te moet verduur nie. Gun dan ook vir my die keuse om nie 'n las, emosioneel of finansiëel, op my geliefdes te wese nie; ek wil dit nie aan hulle doen nie.
Sou ek van bygestaande selfmoord gebruik maak indien my gesondheid en welstand sodanig versleg en daar slegs 'n tyd van lyding voorlê nie? En daar slegs 'n uitgerekte swaarkry--emosioneel of finansiëel--vir my geliefdes voorlê? Moontlik. Ek sou ten minste die keuse wou hê om die marteling te verkort en my geliefdes van onnodige trauma te spaar.
My groot vrees is nie regtig die fisiese lyding nie. Eerder psigologiese agteruitgang en dimensia. Indien ek Alzheimers moet kry of iets soortgelyks waar die brein stelselmatig psigologies verbrokkel, sou ek graag die opsie wil hê om my lewe op 'n betaamlike wyse te eindig. Met “betaamlik” bedoel ek selfmoord wat nie gru is nie. Ek wil nie hê my geliefdes moet my vind met 'n gat in my kop, of my tong wat uitpeul met 'n tou om my swart gekneusde nek nie. Nes ek nie wil hê my geliefdes my moet onthou as 'n mal ou oom wat sy broek vuil maak, aggresief optree, of sulke dinge wat hulle mooi herinneringe van my besmet nie.
My herinneringe aan my eie moeder is só besmet. So erg was haar agteruitgang beide fisiek en psigies, dat dit omtrent elke mooi herinneringe wat ek van my ma het oorskadu. Ek kan skaars aan haar dink sonder om die gebroke, vernederde, patetiese, veronteerde wesetjie te herroep waarin sy verander het.
My pragtige ma. |
'n Opinie omtrent bygestaande selfmoord
Ek nes my lewe in klam rooigrond:
'n pêreltjie—oënskynlyk leweloos—skiet
skielik 'n harige stertjie suidwaarts,
'n kordadige nekkie priem noorde toe;
die gevuisde lentegroen koppie
vou oop soos twee palmpies na gebed
of voor applous en glimlag vlinderlik.
Natuurlik, figuurlikgesproke het ek my lewe
só geplant en met die selfde aanmatigheid
wil ek, wanneer die tyd ryp is,
die pêreltjie weer oes—sagkuns ontwortel,
die lewensare se konneksie met die klam
rooigrond kortknip, die vlinder laat verwelk
en die korreltjie wat aan my geleen is teruggee.
Want, toe ek ontkiem het,
was dit 'n deftige—en toweragtige—affêre
en daarom wil ek ook op 'n betaamlike
manier sterf—sans towerkuns natuurlik—.
'n Saad ontkiem, en 'n lewe begin. Image Source |
1 comment:
Onthou dat ek jou eendag "ons storie" vertel.
Post a Comment