Sunday 18 December 2011

Vyf dinge wat ek by my ma geleer het

My ma

'n Mens is nie aldag bewus van die waardevolle lesse wat jy deur die jare by jou ouers geleer het nie. En om eerlik te wees, die trauma-geïnduseerde amnesia wat met my ouers gepaard gaan maak dat ek nie juis veel van my ma kan onthou nie. Gevolglik is ek opgewonde wanneer ek wel 'n paar positiewe herinneringe kan onthou. In elk geval, hier volg vyf dinge waarin my ma geglo het en wat ek as waardevolle lesse by my ma geleer het:

“Vra is vry, en wyer daarby”

Dit was een van my ma se gunsteling spraakwendings. Ek is seker dat die idioom “vra is vry, en wyer daarby” selfverduidelikend is: Daar is geen skade om te vra vir, oor, omtrent, of na iets nie. Die ergste wat die ander party kan doen is om jou versoek te wyer, so daar is nie veel te verloor deur te vra nie, maar daar is altyd die potensiaal om iets te win. Selfs die Bybel por ons aan om te vra (Markus 11:24).

Veg gravitasie

Wanneer jy gesigroom aanwend, vryf dit op, nie af nie. Gravitasie trek die heeldag alles af, moet jy nie nou ook dinge begin afwaarts vryf nie. Soos ek ouer word kom ek agter dag dinge begin sak en het ek nou besluit om die beginsel ook in my daaglikse afdroog roetine toe te pas na ek gestort of bad het. In plaas daarvan dat ek “afdroog”, met ander woorde die handoek afwaarts oor my liggaam vryf, maak ek nou gebruik van “opdroog”—ek vryf die handdoek opwaarts oor my lyf.

Iets anders wat my ma ook vir my genoem het en waaruit ek as 'n man nou nie juis persoonlik veel baat vind nie, maar dalk van my vrouelesers wel kan, is dat “borste moet ondersteun word”. My ma het sterk geglo in bras wat die borste behoorlik ondersteun en die effek van gravitasie teenwerk. Klink sinvol.

Worry nie oor wat ander van jou dink nie en wees proaktief

My ma was nie 'n skaam mens nie en het glad nie omgegee om uit te staan of in die kollig te wees nie. Sy het kanse gevat, haar stem laat hoor, en was nooit bang vir verkeerd wees nie. Om aksie te neem is beter as om te kwyn voor die vrees van wat ander mense van jou mag dink. Sy was proaktief. Uit die krygskunste kan ek die beginsel beaam: aksie is inherent vinniger as reaksie. Wees 'n aksie mens, nie 'n reaksie mens nie.

Musiek het voedingswaarde

My pa hou nie van musiek nie. Ek vind dit uitermatig weird dat 'n mens nie van musiek kan hou nie. My ma, aan die anderkant, was 'n groot musiekliefhebber. Om haar was daar nooit nie musiek nie. My ma het van alle musiek gehou: Country musiek, rock-en-roll, klassieke musiek, boeremusiek, koortjies en lofliedere, popmusiek, selfs die metal-goth waarna ek as laattiener geluister het, het sy saam met my geluister. Sy't gesing, klavier en orrelgespeel en ons kinders aangemoedig om ook musiek deel van ons lewens te maak, want musiek is so nodig soos kos. En nes kos, het sekere kos meer voedingswaarde as ander. So luister na 'n gesonde verskeidenheid!

Waarde word nie net in geld gemeet nie

My ma het waarde gesien in enige iets wat handgemaak is, waaraan iemand tyd spandeer het. Massageproduseerde, masjien gekoekiedrukte produkte het min waarde in haar estimasie gehad. Iets wat die produk is van iemand se persoonlike swoeg-en-sweet, se bloed-en-trane, was outomaties meer werd vir haar. 'n Kranklike houtgekerfde stoeltjie was vir haar van meer waarde as iets wat dubbeld soveel werd is in geldelike terme. Daar's baie waarde in die “personal touch.” Tyd voeg ook waarde by tot iets. Natuurlik was enige oudhede en antieke dinge van hoë waarde vir haar.

Goeie lesse, dink jy nie?

No comments: