Saturday 25 June 2011

Moeder/taal

Vanoggend het ek 'n slegte droom gehad. Ek het gedroom dat ek en my ma 'n rusie het. Ek kan onthou waaroor ons 'n uitval gehad het nie, maar onthou hoedat ek wakker geword het met baie negatiewe emosies. My ma is nou al 10 jaar lank oorlede. Ek kan nie dink hoekom ek juis oor haar sou droom, en veral sou droom dat ons oor iets vassit nie.

Later vandag het ek kortliks 'n ander Suid-Afrikaner ontmoet en so bietjie in Afrikaans gesels. Dit was vir my skokkend om na myself te luister. My Afrikaans het duidelik 'n verengelsde aksent. Boonop kon ek myself op verskeie kere nie behoorlik uitdruk nie en moes ek terugslaan Engels toe. Ek wou byvoorbeeld sê: "God doesn't believe in coercion," maar het nie geweet wat "coerce" in Afrikaans is nie. 'n Vinnig draai by Google Translate, nou net, vertel my dat "coerce" is "dwing": "God glo nie in dwang nie." Hoe is dit dat ek 'n eenvoudige Afrikaanse woord soos dwing/dwang eens meer kan onthou nie?! Aai, ek wil darem nie so agteruitboer in Afrikaans nie. 

No comments: