Tuesday 21 April 2009

Moontlike kuberkrakers op kampus

Image from Hacking-blog.

Dit blyk dat daar kuberkrakers op kampus is. Van sowat ’n week of twee voor die semestertoetse begin het, het klomp van my kollegas se rekenaars dramaties stadiger geraak. Party het selfs flitsboodskappe gekry dat iemand toegang tot hulle sisteem probeer kry, of, sowaar, toegang het!

Gister het een kollega by die departementele kantoor ’n kopie van twee van die vraestelle wat ek opgestel het by die fotostaatmasjien ontdek. Dit is moontlik dat ek dalk die een kopie daar kon vergeet het, maar die tweede kopie was definitief nie my oorspronklike nie, aangesien ek my oorspronklike een by my gehad het. Ons is vyf mense wat hierdie betrokke vak aanbied, so dit kon dalk een van hulle gewees het wat ’n duplikaat daar vergeet het; óf dit kon, inderdaad, kuberkrakers wees wat die dokument in die hande gekry het. Hulle sou dit nie vanaf my sisteem kon kry nie omdat ek nie sulke data op my kantoorrekenaar los nie, maar slegs op my datastafie stoor. Ek het aanvanklik nie die vraestel aan my kollegas geë-pos nie, juis uit vrees dat die vraestel op een-of-ander obskure manier kon lek. Daarom het ek dit vir hulle as hardekopie voorsien. Maar hulle wou toe later veranderinge aangebring hê, en het gevra dat ek dit e-pos.

In ’n land soos Korea, met sy hiper-vinnige Internet, en tegnologiese-savvy mense, is kuberkrakers ’n groter bedreiging as wat ek in Suid-Afrika beleef het. Gelukkig is ek nie te veel hieroor bekommerd nie omdat ek redelik versigtig is met hoe ek die Internet gebruik, en omdat ek ook ’n verskeidenheid voorsorgmaatreëls in plek het, soos vuurmure, virusprogrammatuur, ensomeer.

Waaroor ek wel bekommerd is, is dat mense in my kantoor kan inbreek. Die meeste kantore het dubbelslotte, waarvan een ’n skuifslot is, maar my kantoor het slegs ’n gewone slot. Ek is nie seker tot watter uiterstes studente sal gaan om in kantore in te breek nie opsoek na vraestelle nie.

No comments: