Saturday, 17 March 2012

As dood dan wel beskore is om met my verjaarsdag vereenselwig te word . . .

Source: Associated Press
Verlede jaar op my verjaarsdag het 'n groot aardbewing veroorsaak dat Japan met 'n reuse, hartskuddende, fratsgolf getref word en derduisende mense ontkom het. My broer het sy verjaarsdag wense aan my mos só gestel:

“Ek wens jou alle sterkte toe, en wens jou God se seën toe. Jou verjaarsdag is nou gelink aan . . . 'n natuurramp in Japan.”

As dood dan wel beskore is om met my verjaarsdag vereenselwig te word, dan kies ek eerder dié van Dr. Peter Goodwin, 'n Suid Afrika-geborene, wat vanjaar op my verjaarsdag tot sterfte gekom het met behulp van wettige bygestaande selfmoord, in die Staat van Oregon, VSA.

Dr. Peter Goodwin: "I don't want to go out with a whimper,
I want to say goodbye to my kids and my wife with dignity.
And I would end it . . ."

Dr. Goodwin was lank 'n kampvegter vir bygestaande selfmoord vir terminaal gediagnoseerde pasiënte in sy tuisstaat, Oregon, wat in 1994 oor die kwessie gestem het. Die resultaat was die wettiging van die “Death with Dignity”-wet in dié Amerikaanse staat. Dr. Goodwin het ook gehelp met die stigting van die organisasie Compassion and Choices wat terminaalsiek pasiënte en hulle families ondersteun en veg vir die keuse om met waardigheid te sterf.

Dis maklik vir mense wat nog nooit ware pyn en lyding in die oë gestaar het nie, wat nog nooit direk gesien het hoe 'n siekte 'n mens se menswaardigheid kan stroop nie, wat nog nooit beleef het watse las dit beide finansiëel en emosioneel op die geliefdes is, en gevolglik watse erge skuldgevoelens en droefheid dit in die pasiënt opwek nie, om bloot botweg bygestaande selfmoord as verkeerd te verklaar. In hierdie konteks is bygestaande selfmoord nie net 'n vorm van genade dood nie, dis 'n laaste uitvoering van 'n mens se Godgegewe vryekeuse—'n laaste oomblik van menslike waardigheid.

Ek kan hoor hoe roep party (Christenne) uit: “Dis nie Godgegewe vryekeuse nie! Dis sonde!” Om die lewensgeskenk weg te gooi is moontlik 'n sonde, maar die terminaalsieke gooi nie sy of haar lewe weg nie. Daardie lewe is reeds tot 'n einde. In 'n ander tyd sonder vandag se mediese vooruitgang sou so 'n persoon waarskynlik baie vroeër gesterf het.

Simson pleeg selfmoord in die Tempel van Dragon
wanneer hy die steunpilare omgooi en die gebou op
homself en die teenwoordige Fillistyne laat val.
Skildery deur Giovanni Benedetto.
Daarbenewens het die Bybel, sover ek weet, ook niks oor die onderwerp te sê nie. Inteendeel, daar is sowaar voorbeelde van sterftes wat as selfmoorde gedefiniëer kan word in die Bybel. Dink byvoorbeeld aan Simson wat tot die Heilige Gees gebid het om hom die krag te gee om homself saam met die Filistyne om die lewe te bring. Dan is daar ook Jesus wie se missie as Verlosser was om te sterf. Hy het die vermoeë gehad om sy dood te vermy, maar het gekies om dit nie te doen nie. Dit is waar dat Jesus gekies het om 'n marteldood vol pyn en lyding deur te gaan, maar dit is juis die punt—dit was sy keuse. Hy kon kies om dit vry te spring en Hy kon kies om dit te verkort, maar Hy het gekies om deur die lyding te gaan en so te sterf.

Op die ou einde is dit inderdaad Sonde wat lei tot sterfte—volgens die Heilige Geskrifte was dit daardie eerste Oersonde wat tot die dood gelei het, en dis ons ingebore sonde en die vloek van sonde oor die hele Skepping wat konstant elke mooi ding verwring, elke spesiale ding verweer, elke goeie ding verknog en alles tot sterfte dwing. Gun 'n mens tog, in so 'n gebroke wêreld, die keuse om met waardigheid te sterf! Moet nie vir 'n oomblik vir my probeer maak glo dat God behae het in 'n onnodig uitgerekte lang siekbed en gepaardgaande marteling nie. As ons mense, wat inherent sondig is, die wysheid kan insien om 'n siek dier se leiding te verkort, laat ek my nie vertel dat God van ons verwag om hopelose leiding te moet verduur nie. Gun dan ook vir my die keuse om nie 'n las, emosioneel of finansiëel, op my geliefdes te wese nie; ek wil dit nie aan hulle doen nie.

Sou ek van bygestaande selfmoord gebruik maak indien my gesondheid en welstand sodanig versleg en daar slegs 'n tyd van lyding voorlê nie? En daar slegs 'n uitgerekte swaarkry--emosioneel of finansiëel--vir my geliefdes voorlê? Moontlik. Ek sou ten minste die keuse wou hê om die marteling te verkort en my geliefdes van onnodige trauma te spaar.

My groot vrees is nie regtig die fisiese lyding nie. Eerder psigologiese agteruitgang en dimensia. Indien ek Alzheimers moet kry of iets soortgelyks waar die brein stelselmatig psigologies verbrokkel, sou ek graag die opsie wil hê om my lewe op 'n betaamlike wyse te eindig. Met “betaamlik” bedoel ek selfmoord wat nie gru is nie. Ek wil nie hê my geliefdes moet my vind met 'n gat in my kop, of my tong wat uitpeul met 'n tou om my swart gekneusde nek nie. Nes ek nie wil hê my geliefdes my moet onthou as 'n mal ou oom wat sy broek vuil maak, aggresief optree, of sulke dinge wat hulle mooi herinneringe van my besmet nie.

My herinneringe aan my eie moeder is só besmet. So erg was haar agteruitgang beide fisiek en psigies, dat dit omtrent elke mooi herinneringe wat ek van my ma het oorskadu. Ek kan skaars aan haar dink sonder om die gebroke, vernederde, patetiese, veronteerde wesetjie te herroep waarin sy verander het.

My pragtige ma.
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Geensins wens ek dat my ma selfmoord gepleeg het nie. Maar aan die ander kant, indien my ma 'n keuse kon hê om met meer waardigheid te kon sterf as die hand wat die lewe haar gedeel het, sou sy moontlik so 'n ander opsie waardeur het. Ek onthou nou nog op een geleentheid nader aan die einde van haar lewe toe sy 'n kortstondige oomblik van helderheid gehad het, hoe sy my met erns en trane in haar oë gevra het: “Hoe het dit gebeur? Hoe het ek so geword?” Hoe het sy van 'n eens dinamiese, onafhanklike, intelligente, pragtige, koninginagtige vrou verander in 'n verkrimpte, totaal afhanklike, siniele, kleuter? Indien dit met my gebeur dat ek met 'n soortgelyke lot getref word wat my moeder so verneder het, sal ek beslis oorweeg om van bygestaande selfmoord gebruik te maak.

'n Opinie omtrent bygestaande selfmoord


Ek nes my lewe in klam rooigrond:


'n pêreltjie—oënskynlyk leweloos—skiet
skielik 'n harige stertjie suidwaarts,
'n kordadige nekkie priem noorde toe;
die gevuisde lentegroen koppie
vou oop soos twee palmpies na gebed
of voor applous en glimlag vlinderlik.


Natuurlik, figuurlikgesproke het ek my lewe
só geplant en met die selfde aanmatigheid
wil ek, wanneer die tyd ryp is,
die pêreltjie weer oes—sagkuns ontwortel,
die lewensare se konneksie met die klam
rooigrond kortknip, die vlinder laat verwelk
en die korreltjie wat aan my geleen is teruggee.


Want, toe ek ontkiem het,
was dit 'n deftige—en toweragtige—affêre
en daarom wil ek ook op 'n betaamlike
manier sterf—sans towerkuns natuurlik—.

'n Saad ontkiem, en 'n lewe begin.
Image Source
Die verteller in my gedig, veral aan die aanvang van die gedig, is wel aanmatig. Hy praat asof hyself sy lewe begin het. Dit is natuurlik nie die geval nie. Ons het geen sê in ons begin nie. Dit was die keuse van ons ouers en die lewensasem van God wat die impetus van ons lewens was. Nietemin is dit tog 'n geskenk aan ons, en as ek 'n geskenk ontvang, behoort dit dan aan my en het ek seggenskap daaroor. Ja, ek het uit respek teenoor die een wat aan my die geskenk gegee het 'n verantwoordelik rakende die geskenk, maar dit bly allermins mý geskenk. As ek nie kan doen met my geskenk wat ek wil nie, was dit nie werklik 'n geskenk nie. Daar is verskeie maniere om my waardeuring te bewys vir my lewensgeskenk. Aan die eenkant is dit om volheid te lewe. Om die meeste te maak van die lewensgeskenk wat ek ontvang het; om die lewe ten volle te benut; om my menslikheid met menswaardigheid te ontwikkel. Aan die ander kant, kan geargumenteer word, dat my waardeuring vir my lewensgeskenk ook gedemonstreer kan word in hoe ek sterwe: “daarom wil ek ook op 'n betaamlike manier sterf”. Ek mag dalk nie aandeel hê in my begin nie; gun my dan aandeel in die manier wat ek tot 'n einde kom.

As my verjaarsdag dan geassossiëer moet word met sterftes, laat dit dan wees met 'n menswaardige sterfte waartydens die afgestorwene kans gehad het om vrede te maak met sy of haar lot, kans gehad het om totsiens te sê aan sy of haar geliefdes, kans gehad het om met waardigheid en 'n nugter verstand sy of haar lewe tot einde te roep, eerder as 'n uitgemergelde, ontmensde bondel, gestroop van alles wat eens mooi was. Laat my verjaarsdag dan met Dr. Peter Goodwin geassossiëer.

2 comments:

Franco said...

Hey Sanko, ek stem saam met jou, bygestaande selfmoord moet wettig wees. Die moderne medisie strek jou siekte so ver uit sodat hulle al jou geld kan vat, al jou familie se geld kan vat en dan gaan jy in elk geval dood.

As ek ooit in so posisie kom sal ek als in my mag doen om selfmoord te pleeg, wie wil veroorsaak dat sy hele familie bankrot raak net om jou eie leiding te vermeerder? Niemand sal dit wil doen nie.

Skryfblok said...

Onthou dat ek jou eendag "ons storie" vertel.