Môre moet ek serimoniemeester speel by een of ander taalskoolkompetisie. Ek sou aanvanklik slegs een van die beoordeellaars gewees het. Maar vanoggend tydens die departementele vergadering is ek ingelig dat ek nou die serimoniemeester moet wees – hoekom? Want ek is wit. Ja glo dit of nie, rassediskriminasie en rassevoorkeur is steeds aktief in moderne Korea. My kollega wat oorspronklik die seremoniemeester sou wees is Koreaans van geboorte, maar het in Amerika (Hawaii) groot geword. Ondanks dat sy “Westers” in kultuur en denke is, en vlot in Engels is, is daar aan haar gesê dat die ouers van die kinders wat die kompetisie gaan bywoon wil ’n Westerse gesig sien. Dit maak nie saak dat ek van Afrika is nie, I look the part.
Nou ja, môre is ek nie meer beoordeellaar nie, maar serimoniemeester op grond van my velkleur. Hoe moet ek hieroor voel? Dit gee my geensins ’n warm gloei in my binneste nie.
My een vriend is ’n African-American. Hy is oortuig dat die Koreane hom anders behandel op grond van sy vel. Partykeer dink ek dis net sy historiese vervolgenswaan as ’n New-Yorker waar “police profiling” ’n algemene ding is. Maar dalk is hy reg. Rassisme is algemeen in Korea. ’n Ligter vel kry definitief voorkeur in die massamedia. Modelle en akteurs met ligte gelaat is baie meer sigbaar en Koreane gebruik “skin bleachers” om hulleself ligter te maak.
No comments:
Post a Comment