Monday 23 March 2020

Spesieïsme

Ek het sopas 'n erg ontstelde video gekyk van die Wuhan-vleismark waar party reken die oorsprong van die huidige Korona-virus is. Die video wys allerhande diere, van katte en honde tot slange, rotte en vlermuise, asook die bekende "kos" soos varke, in hokke of opgekap op slagtersblokke.

Terwyl 'n mens die makabere beelde aanskou is daar 'n groot versoeking om te dink ons is minder barbaars as dié Sjinese wat honde en rotte eet. Omdat dié "kosse" só volksvreemd is maak dit ons blind vir ons eie barbaarse slagting van bekende "kosse", die miljarde hoenders en beeste, die kalwers en lammers watse braaivleisgeure ons monde laat water. Nee, net omdat jy nie hond eet nie, maak dit jou nie 'n beter mens nie.

Jy eet steeds die vlees van 'n ander lewende wese, en jou verlustiging aan daardie hoenderboudjie of skaap tjoppie, varkribbetjie of T-bone steak is eties dieselfde as dié van 'n kat- en honde-eter. 'n Vark ervaar dieselfde vrees en pyn in die slagpale as wat jou skoothondjie sou ervaar. Laat ons nie diere-rassiste wees en maak of die lewe van een tipe dier meer waarde het as dié van 'n ander tipe dier nie; dat 'n hoender "behoort" geëet te word, maar 'n olifant te edel is, dat 'n skaap is kos, maar 'n hond is familie.

Konfronteer jouself met die waarheid van jou medepligtigheid aan die lyding en moord van lewende wesens. Ons moorddade het te verwyderd geraak, ver weg agter die hoë mure van die slagpale, en mooi verpak agter die blink vensters van slaghuis en supermark. Dit is omdat die bloed van ons prooi nie meer aan ons eie hande sit nie, dat ons vergeet het hoe aandadig ons is, en hoe die skarlaken van alle onskuldige diere aan ons vingers en monde kleef.

No comments: