Saturday 9 November 2013
Rooideur & Patriotisme
Ek weet nie heeltemal hoe voel ek hieroor nie. Ek het nog nooit lekker in gepas in my Afrikaanse subkultuur nie, maar weet feitlik niks van die Joods-Engelse subkultuur waaruit by pa stam nie. Ek het groot geword as 'n tipe "Third Culture Kid" met 'n groot dosis Hollywood flieks (my ma het 'n videowinkel gehad), fantasie boeke (ek het Lord of the Rings gelees toe ek nog op skool was, lank voor die flieks uitgekom het), Britse humor (Waiting on God, My Family en 'Alo 'Alo is van my gunstelinge), en my ma se liefde vir musiek: klassiek, country, Elvis, en musiekblyspele soos West Side Story. Min eg Suid-Afrikaanse kultuur. In my subkultuur is daar nie veel rugby, bier, en braaivleis nie. Die plaas . . . dis 'n deel van wie ek is. Maar dis onteien en verewig weg.
Terug by die Rapportryerbeweging en die Rooideur-projek wat kos voorsien aan minderbevoorregte Afrikaanse kinders. Ek dink daar is waarde in so 'n projek. Arm Afrikaners is inderdaad 'n groep wat oorgesien word weens historiese redes. Wanneer mense dink aan arm, honger kinders in Afrika, is dit nie aan wit gesiggies waaraan hulle dink nie, so hierdie is seersekerlik 'n afgeskeepte gemeenskap.
En ek was op 'n tyd self ook 'n arm wit "Afrikaner". Vir vele Suid-Afrikaners, en veral vir anderskleuriges is dit 'n anomalie. Ek onthou hoedat ek self nie geld gehad het vir kos nie, en swartmense dan by my wil geld bedel en selfs kwaad word vir my as ek nie vir hulle geld wil gee nie. Dis vir hulle ondenkbaar dat ek nie geld het nie -- in hulle gemoed is ek bloot 'n selfsugtige, wit leuenaar. Daar was een geleentheid wat 'n bedelaar my gevloek het, omdat ek nie vir hom geld wou gee nie, min wetend dat ek heel eerlik was toe ek verduidelik dat ek nie geld het om vir hom te gee nie.
Wat my pla van die Rapportryerbeweging se Rooideur-projek is die poging om patriotisme of nasionalisme te kweek. Daar is seker niks fout daarmee in opsigself nie, maar dit voel vir my amper soos daardie sopkombuise by kerke wat vir die armes kos sal gee, mits hulle na 'n preek kom luister. Die kos is nie werklik gratis nie--jy moet met jou siel daarvoor betaal. Kinderstjies, hier is vir julle kossies, maar sing saam: "Ek sal lewe, ek sal sterwe, ek vir jou Suid-Afrika!"
Vir my is daar niks fout met 'n trots in jou kultuur en land nie. Maar dit bly selde by net 'n onskuldige, trots. Baie vinnig slaan dit om in 'n selfvoldaanheid, 'n ons is beter as die res, mentaliteit. Patriotisme, soos nasionalisme, maak dit maklik om jou naaste--die mense wat soos jy lyk en dink--lief te hê soos jouself, maar moeilik om die wat anders as jy is lief te hê; want patriotisme is inherent eksklusief en nasionalisme is inherent aggressief.
Ja, asseblief, gee die kinders kos. En ja, leer hulle van hulle geskiedenis en kultuur. Maar wees versigtig oor jou motiewe.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment