Tuesday 17 September 2013

My Aardklop wenslysie

Dit is weer Aardklop-tyd. En as ek in Suid-Afrika was met 'n goeie dik beursie geld sou ek die volgende gaan kyk het:

Riders from the Storm beloof om 'n warm (Suid-) Afrikaanse rock & roll jam sessie te wees. Ek bedoel met sulke Afrikaanse rock legendes soos Piet Botha, Mel Botes en Valient swart, hoe kan dit anders? En dan is daar nog Albert Frost, Nathan Smith, Ghapi en ander om die storm goed te laat donder. Soos die vertoning se etslyn sê: "die manne gaan bulder, die aarde gaan dreun"! Aai, ek wens ek was daar.

Amanda Strydom is Suid-Afrika se voorste Afrikaanse cabaret singer en as daar iemand is wat weet hoe om 'n goeie verhoogvertoning aan mekaar te sit dan is dit sy. Ek het nog nooit 'n Amanda Strydom vertoning gemis as ek dit kon help nie en is hiper jaloers op enige iemand wat hierdie vertoning oor 'n boeremeisie wat verlief raak op 'n rooinekloots tydens die Tweede Wêreldoorlog gaan te sien kry. Ja, 'n mens kan altyd die CD na die tyd koop, maar jy kannie altyd Amanda se verhoogspel te siene kry nie. Gaan kyk dit, gaan hoor dit, gaan voel dit! Viva Amanda!

As jy van klaviermusiek hou en ook van koormusiek, dan is Amazing -- Rocco de Villiers nie te mis nie. Die klavier maestro span kragte saam met die Potchefstroomse Manskoor. Ek is seker dit gaan betower. Soortgelyk is Charl du Plessis se Pimp my Piano baie belowend: 'n vlegsel van klassieke musiek met moderne pop en jazz treffers. Ek oorweeg om die CD te koop. Ek is seker dat Zaza en die KunsteNar 'n lekker vertoning gaan wees en enige iemand wat hulleself as 'n gypsie sien sal waarskynlik ingetrek en meegevoer wees met die vertoning. En vir Jazz-liefhebbers, Jazz at Aardklop bring die van beste Suid-Afrikaanse jazz musici bymekaar en gooi hulle op 'n verhoog en siedaar! Aai, hoe jaloers is ek nou!

Ek is nie juis op hoogte met wat in Suid-Afrika se teaterbedryf aan die gang is nie, maar as ek moes kies tussen die teaterproduksies sou ek graag Die Leo'sAs ek reg onthoumacbeth.slapeloosNa-aap, 'n verweking van Franz Kafka se A Report to an Academy; en Wie's bang vir Virginia Woolf? wou sien.

Wat die visuele kunsuitstallings betref sal ek graag Maureen Quinn se The Hunt weer wil sien. Ek het die uitsalling van bronsgegote 'n klomp jare gelede gesien en dit het my geweldig beïndruk. Haar beelde skep in my angst en verwondering -- sy is waarskynlik my gunsteling Suid-Afrikaanse beeldhouer. Die uitstalling is gratis. Gaan kyk dit en laat die beelde jou siel jaag. Ek sou ook graag Robert Hamblin se uitstalling Onder konstruk wou sien omtrent manwees. Wat beteken dit nog, in hierdie tyd waarin ons leef, om 'n man te wees? Vir 'n meer prettige uitstalling dink ek Collateral -- 'n uitstalling van ontwerpersspeelgoed -- gaan lekker speels wees met allerande oulike snoesige monstertjies en wollerige husse.  

Ten laaste op my Aardklop wenslysie plaas ek Tussen hemel en aarde, 'n woordkunsvertoning gebasseer op T. T. Cloete ('n persoonlike gunsteling) en Carina Stander se gedigte.

Laat die kunste jou siel voed. Soos Hy gesê het, 'n mens kan nie van brood alleen lewe nie.

No comments: