Wednesday 26 September 2012

Outokorregeer gee my die horries

Microsoft Office se outokorregeer-funksie gee my die horries! Ek het nou amper die sleutelbord 'n vuishou gegee uit frustrasie.

Die probleem is as volg: Ek gebruik vier tale op my kantoorrekenaar: Amerikaanse Engels, Britse Engles, Koreaans en soms Afrikaans. Nou goed, ek het die "Detect language automatically"-opsie afgesit want wanneer jy met soveel tale begin werk en daardie opsie is aan dan spring die woordverwerker sommer lukraak van een taal na die ander. Maar dit is juis omdat ek hierdie opsie afgesit het dat ek so gefrustreerd raak wanneer ek een oomblik nog Afrikaans tik en die rekenaar skielik besluit dat dit Koreaans is en 'n eenvoudige woord soos "ek" skielik "다" word! En omdat die rekenaar dan nie self terug skakel na die oorspronklik taalinstelling nie, kan ek 'n hele sin of twee in Koreaans tik terwyl ek nog dink ek tik in Afrikaans. Dis veral 'n irritasie omdat ek baie goed kan tik en nie na die skerm hoef te kyk nie, so ek besef nie altyd onmiddelik dat daar het skielik iets fout gegaan nie. Maar selfs al sou ek die heeltyd na die skerm kyk, bly dit 'n hindernis wanneer die insleuteltaal skielik vanaf Romeinse letters na Koreaanse letters verander en ek dit dan doelbewus moet terug verander elke keer. Die oplossing is om die outokorregeringsfunksies heeltemal af te sit, maar hoekom sal ek dit wil doen?--woordverwerkers se waarde lê tog juis daarin om jou spelfoute uit te wys en tyd te spaar!


No comments: