Sunday 1 July 2012

Oom Andre, my “pa”, is dood.



Oom Andre, my “pa”, is dood. Hy het gisteroggend gesterf nadat hy vir 'n klomp maande aan kanker gelei het. Die laaste drie weke was hy veral in pyn en sy liggaam ongenadiglik afgetakel tot vel en been, so sy uiteindelik sterfte kom as 'n verligting. Maar o!, die wêreld is 'n armer plek sonder hierdie man. Ek het gehoop dat ek hom weer kan sien voordat hy sterf, sodat ek vir hom kon dankie sê vir die geweldige besonderse invloed wat hy op my lewe gehad het.

Gisteraand toe ek by die huiskom lees ek my e-posse en sien dat my X vir my 'n boodskap gestuur het. Oom Andre was haar oupa, maar omdat haar ouers geskei was, was dit juis haar oupa wat grootliks ingestaan het wat vaderlike verpligtinge betref. In haar brief skryf sy “Hy was my Pa!! . . . troostelose winter koue sny my siel en ek bloei, ek bloei – trane sny my siel – weg is Oupa . . .” In 'n opvolg e-pos voeg sy by: “sterkte – ek weet jyt hom soos 'n pa liefgehad, jammer man”. Toe ek dit lees, bars ek onbeheurd uit in brullende snikke.

Niemand, behalwe miskien X, weet watse groot invloed Oom Andre op my lewe gehad het nie. Hy is die persoon wie ek altyd wou hê as pa. Ek bedoel geen disrespek aan my eie pa nie, maar ek is oortuig dat ek 'n beter mens sou gewees het indien ek onder die faandel van Oom Andre groot geword het. Daar is 'n paar redes hiervoor, maar een pertinente een is dat Oom Andre was 'n kunstenaar. My eie pa het niks kunssinnigs in hom nie. Hoe kan 'n man soos hy, wat nie eens van musiek hou nie, 'n artistieke kind soos ek lei tot manwees. Daar was 'n tyd wat ek my pa baie kwalik geneem het vir sy ontrekking van my, maar ek het intussen effense simpatie met hom. My pa het eenvoudig nie die bevoegdheid gehad om 'n kreatief-sensitiewe seun tou wys te maak nie. En vir jare het ek groot geword sonder enige rolmodel, sonder enige voorbeeld van hoe 'n man 'n kunstenaar kan wees, maar steeds 'n man kan wees. Ek het my hele grootword alleen gevoel. 'n Buitestander in wat dit is om 'n man te wees. En toe, in my twintigs ontmoet ek oom Andre, hierdie weermagsoffisier, 'n vegvlieënier, wie se eie pa eens 'n weermagsgeneraal was. Oom Andre was die epitoom van manwees. Maar hy het sy graad verwerf in die fynere kunste, as skilder, en kon in homself die harde vegtersgees van 'n soldaat, en die sagte sensitiewe gees van 'n kunstenaar verweef tot 'n persoon na wie ek kon opkyk en uiteindelik uitroep: Daar! Daar is 'n voorbeeld vir my. 'n Man na my hart!



In sy 60s het Oom Andre in sy CD-versameling geluister na Mahler, Bach en Brahms, maar ook na Alanis Morissette, en Sheryl Crow, en Madonna. In sy studeer kamer het fotos van hierdie kontemporêre musieksterre gepryk langs fotos van vegvliegtuie, potrette van ou geliefdes, and tekste uit Hebreërs. En dit was hierdie Oom wat so paradoksaal die ou en die nuwe bymekaar kon bring, wat die harde en sagte in 'n yin-yang kon balanseer, wat my geleer het wat 'n regte Christen is: wat my gewys het—op soveel kere wat ek moed wou opgee met die Christen religie—dat daar wel so iets is woos 'n werklike Christen; wat my geleer het wat verlossing deur genade alleen, deur geloof alleen, in Jesus Christus alleen beteken.

Een van my grootste vrese terwyl ek hier in die buiteland leef is dat geliefdes soos Oom Andre en vir wie ek so lief is, sterf voordat ek nog kans gehad om meer tyd met hulle te kon spandeer. En nou voel ek dit—die werklikheid van daardie vrees, kou taai en morsig aan my siel soos teer.

Hoe vul 'n mens die leemte as jy jou geestelike vader sterf?! Hoe vul jy die leemte wanneer jou grootste rolmodel verdwyn?!

My pa is gister dood. Die wêreld is 'n armer plek sonder hom. Ek is 'n armer mens sonder hom.

Maar ek is 'n ryker mens omdat hy my toegelaat het om sy seun te word en ek is intens dankbaar dat God aan my Oom Andre en Tannie Lydia as geestelike ouers gegee het.

2 comments:

BoerinBallingskap said...

My diepste meegevoel...verder het ek nie woorde nie, want woorde is lomp en ontoereikend.

Skryfblok said...

Dankie Boer. Jy doen dit reg!

http://skryfblok.blogspot.kr/2009/12/comforting-bereaved.html