Ek het 'n storie. Oor 'n kunstenaar. Oor mishandeling. Oor oudword. Oor herontdekking. Oor vredemaak met die self. Wat ek kort is tyd. Herprioritisering.
Dis nie skrywersblok as jy nie daarby uitkom nie. Dis skrywersontkenning. As jy regtig 'n skrywer is en nie skryf nie, is jy besig met selfontkenning. Om nie eg te wees met wie en wat jy is nie is oneerlik. Jy is besig met konformering. Verandering, vervorming, verknogting tot iets sielsvreemd -- en as jy nie eg is aan jou siel nie, hoe kan jy gelukkig wees op die langtermyn?
Liewe Kunstenaar-Ek,
Ek vra onverskoning. My werk het die oorhand gekry. Daar is soveel dinge wat baklei vir prioriteit en ek weet ek het jou afgeskeep die laaste ruk. 'n Lang ruk. Die sporadiese gediggies is nie genoeg nie, ek weet. Ek is jammer. Ek kan nie belowe dat ek onmiddelik gaan opmaak vir die tyd waartydens ek jou afgeskeep het nie. Ek belowe wel dat ek inventaris gaan neem; dat ek gaan tyd maak om te besin oor wat vir my belangrik is. Wees verseker dat jy is wel vir my belangrik, daaroor het ek nie twyfel nie. Ek mis jou ook.
Liefde-groete,
Ek
3 comments:
Jy praat nie net hard met jouself hier nie - jy spreek my ook sommer aan. Selfontkenning. Inderdaad!
Aai...
Ek is paradoksaal bly dat jy verstaan, maar is jammer dat jy verstaan. Selfontkenning is nie 'n goeie plek om in te wees nie.
Maar ek werk daaraan! :)
Post a Comment