Het jy al ooit jouself in iemand gesien? Tot 'n skokkende insig gekom dat daardie persoon is wie jy kon gewees het, maar eintlik bly is dat dit nie is hoe jou lewe uitgedraai het nie?
My ander-ek is Dash Snow, 'n Amerikaanse kunstenaar wat in 2009 op die ouderdom van 27(?) gesterf het. Ek lees oor die lewe van Dash Snow en ek sien hoe klomp geleenthede daar was vir my lewe om soortgelyk aan syne te kon uitdraai. Het ek drie of vier ander keuses tydens kneloomblikke in my lewe gemaak, was ek ook dalk nou al dood nadat ek 'n uitspattige kunstenaarslewe geleef het. Ek probeer nie sê dat ek ook so bekend en opsprakend wekkend as Dash Snow sou gewees het. Dit is nie die punt wat ek probeer maak nie. Wat ek probeer sê is dat ek ook op 'n stadium daardie tipe lewe wou leef en dat ek die geleentheid gehad het om in soortgelyke destruktiewe (kunstenaars/dwelm/ens.) kringe te beweeg.
Om eerlik te wees, partykeer dink ek aan van daardie keuses—daardie “sensible” keuses wat ek gemaak het—en ek wonder of ek die regte keuses gemaak het. Soms wonder ek of ek uitgemis het op iets. Oor party keuses is ek soms spyt. Maar meestal dank ek God dat ek nie sekere paaie langs gestap het toe die opsies daarvoor oopgegaan het nie. Ek is oortuig daarvan dat sekere mense se gebede, veral die van my ouma en ma, gehelp het dat my lewenspad anders uitgedraai het. Ek leef dalk nou 'n minder “opwindende” lewe, maar dis 'n baie gesonder een.
Daar is steeds 'n bietjie Dash Snow in my; my ongesonde alter-ego is nie dood nie, net relatief getem. Dash Snow steek nog steeds kopuit by tye, maar hy's redelik onderbeheer. Die mense wat my ken sal weet van daardie kant van my. Daardie eksibisionistiese kant. Daardie kant wat so maklik verslaaf kan raak en wie ek van byna elke gewoontevormingde ding weerhou. (Ek vermy dwelms, alkohol, sigarette, kaffeïen en selfs videospeletjies!) Daar is steeds 'n rebel, 'n anti-establishment drang, bietjie van 'n anarchis, effense paranoïa. Alles onderbeheer, maar steeds daar. Krokkedille in die onderbewussyn, soos Steven King sou sê.
Beny ek Dash Snow? Nee. My lewe is opwindend genoeg en ryk aan ervaringe. Ek het 'n vrede wat Dash Snow nie het nie. Daar is 'n stabiliteit wat ek nou het, 'n fokus, wat ek nie wil verruil nie. Ek is bewus van my blekke, maar is ook bewus van God se goedheid.
1 comment:
Ja ek is bewus van Snow se mannewales. Terwyl ek nog in 'n kunsrigting was en Kunsgeskiedenis as vak gehad het, het ek gedink mense wat sulke interesante kuns maak, baie cool is weens die skokeffek wat hulle daardeur regkry.
Intussen het ek nie meer so 'n behoefte om aandag te soek nie.
Post a Comment