Sunday 30 June 2013

Week-van-Betwisting

'n Vierde-jaar student wat 'n klas van my gedruip het, stuur sowaar vir my 'n e-pos om te vra dat ek haar F-punt na 'n D-punt (slaagsuifer) moet verander. Haar motief: "My parents are disappointed."

In Korea is dit heel algemeen dat studente hulle finale punte kan betwis. Nadat die punte op die aanlynstelsel verskyn is daar 'n week geleentheid vir studente om hulle punte te betwis en om die punte te verander. Tydents hierdie week moet al ons dosente beskikbaar wees sodat studente wat probleme met hulle punte het ons kan nader. Gewoonlik wanneer studente my kontak wys ek hulle bloot op die manier wat die punte bereken is volgens hulle werk: opdragte, toetse en eksamens, klasbywoning, klasdeelname, en so aan. Die meeste studente aanvaar dan hulle lot wanneer hulle sien hoe dit gebeur het dat hulle punte lyk soos dit lyk.

Soms is daar sinvolle klagtes. Byvoorbeeld: 'n Student betwis 'n lae punt, ek wys vir hulle watter opdragte nie ingehandig is nie, die studente merk op dat hulle wel 'n spesifieke opdrag ingehandig het, ek gaan soek in my kantoor, vind die verlore opdrag, merk dit, herbewerk die studente se punte, en so aan. Dit het al gebeur so twee of drie keer in die vyf jaar wat ek hier werk.

Maar ek is elke semester verstom oor 'n paar studente wat nie ligitieme redes het vir hoekom hulle beter punte veronderstel is om te kry nie.

Een klagte wat al meer mal by 'n student opgekom het wanneer hulle verstom staan voor 'n swak punt is: "But I've attended all the classes." Baie Koreaanse studente meen dat klasbywoning behoort 'n outomatiese slaagpunt tot gevolg te hê. Persoonlik dink ek dat klasbywoning nie eens moet tel nie -- as jy by die huis jou werk net so goed kan leer en dit kan demonstreer in opdragte, toetse en eksamens, dan sien ek geen rede hoekom jy in 'n klas hoef te kom sit nie. Om na 'n dosent te luister werk nie ewige goed vir almal nie. Nietemin, die universiteit forseer ons om klasbywoning 10% van ons finale punt te laat tel.

'n Ander algemene klagte is senior (vierde jaar) studente wat dink die feit dat hulle seniors is maak gee hulle 'n onmiddelike "get out of jail free card". Hulle hoef nie te werk nie en sal eenvoudig slaag en sommer met goeie punte ook.

Dan is daar die algemene idee dat dit is die dosent wat hulle punte bepaal, eerder as die student-self. Op 'n keer het 'n student my al die volgende gevra: "Professor, why is my grade so low -- don't you love me?" Genugtig! Wat my emosies te make het met jou punt weet nugter alleen!

Een ding wat ek nooit doen wanneer ek so 'n e-pos aan die einde van die semester ontvang nie, is om iets te sê soos: "I'm sorry but I cannot change your grade." Deur jammer te sê maak ek dit my verantwoordelikheid. En dit is nie. Studente se punte is geheel en al hulle verantwoordelikheid. 'n Vriend van my wat by 'n ander universiteit in Korea gewerk het vir oor die 10 jaar het 'n paar keer vir my genoem hoedat baie Koreane nie 'n sin vir agentskap het nie. "They don't have agency," het hy genoem, "and neither do their fiction characters." Hy het, soos ek, 'n klas aangebied in Skryfkuns, en het gevind dat die karakters in sy studente se stories agentloos is. Menende, dinge gebeur met hulle, hulle laat selde dinge gebeur. Hulle is pasiewe dobbers wat deur die golwe gedryf word. Dit het waarskynlik 'n kulturele basis -- ek probeer nog dink waarop dit gebaseer is; moontlik 'n onbewustelike fatalistiese Daoïstiese kosmologie.

Ek is darem nie geheel en al hardekwas gedurende die Week-van-Betwisting nie. Soms, vir grensgevalle, byvoorbeeld 'n studente wat 'n C+ gekry het en wonder oor 'n B-punt, sal ek toelaat om sekere opdragte oor te doen en hulle punt te verbeter. Die belangrike ding bly egter dat hulleself hulle punte verbeter. Dis nie 'n arbitrêre goedhartigheid van my kant af wat op 'n toweragtige wyse hulle punt van 'n C+ na 'n B verander nie. Dis hulle eie werk en insette wat vrugte afwerp.

Die student wat ek aan die aanvang van hierdie skrywe genoem het, wat haar klas gedruip het, het nege opdragte nie gedoen nie. As sy my aan die begin van die Week-van-Betwisting genader het kon ek haar dalk 'n week geleentheid gegee het om haar opdragte in te handig. Maar sy kontak my nou eers -- Sondagaand, die laaste ure voor betwisting formeel eindig. Ek skud my kop in ongeloof -- en skryf daaroor op my blog.


No comments: