Ek dink die hedendaagse kritiek teen die postmodernisme is misplaas. Nie dat die postmodernisme nie sonder haar foute is nie, maar die kritiek wat tans deur prominente figure soos Jordan Peterson aan die postmodernisme toegerig is, konkretiseer vir my twee dinge: eerstens, die kritici verstaan nie regtig die postmodernisme nie, en dus misgis hulle dit wat hulle kritiseer, naamlik 'n nuwe tydsgees, vir die postmodernisme; tweedens, die nuwe tydsgees (wat nog sonder 'n gevestigde naam is en wat ons maar vir nou post-postmodernisme kan noem) is nog nie genoegsaam gekristalliseer in die akademie en openbare psige nie.
Om my punt te maak, mense verwys na die alternatiewe-regses ("Alt-Right"), Antifa en Neo-Marxistiese bewegings in Amerika en noem die groepe "Postmodern"; soortgelyk kan daar na groepe in Suid-Afrika, soos EFF of BLF, vingergewys word en afgejak word as 'n manifestering van postmodernistiese pogings om magstrukture omver te werp. Maar, hierdie radikale groepe is juis on-postmodernisties, omdat ware postmodernisme te gefragmenteer en individualisties is, en rondweg te blasé is, om tribalisties geradikaliseer te word.
Die postmoderne identiteit (maw, 'n postmoderne mens) is deel van verskeie identiteite en neem deel aan verskeie groepe of gemeenskappe. Dink aan die kontemporêre Christen wat ook joga doen, die Dalai Lama se boeke lees, en weekliks haar sterreteken in die Huisgenoot opsoek. Hierdie tipe persoon is nie fanaties oor enige van haar spirituele-identiteite nie, wat nes klere aan en uit getrek kan word soos die situasie daarna uitsien. Sy is 'n postmoderne identiteit -- individualisties, gefragmenteerd, en tot 'n mate sinies teenoor alle pogings tot waarheidsaansprake; gevolglik haar inklusiewe agting vanuit verskeie bronne.
Daarinteen staan die post-postmoderne identiteit: in plaas van individualisties, is die persoon eksklusief. In plaas van deel wees van verskeie gemeenskappe, is die persoon tribalisties. Identiteite word nie aangepas soos kledingstukke nie, maar 'n spesifieke identiteit word tot 'n stam ("tribe") verhef. Dit is nie bloot toeval dat lede van EFF almal dieselfde kledingstukke dra nie. Sulke geradikaliseerde groepe (Amerika se Alt-Regses tot Antifa, tot ISIS) is teenstrydig met postmoderne identiteitskenmerke, en weerspieël eerder die nuwe post-postmoderne identiteitskenmerke.
Daar is natuurlik veel meer wat ek oor die onderwerp kan sê, maar ek vind dit vreemd dat so baie diep denkers, en veral daardie prominente stemme in die huidige openbare diskoers soos Jordan Peterson, nie raaksien dat ons besig is om in 'n nuwe tydsgees in te beweeg nie; dat dit wat hulle as postmodernisme kritiseer, juis nie postmodernisties is nie. Hoe kan mense nie sien dat die Europeuse-unie se vervaagde grense 'n postmodernistiese poging was nie, terwyl Brexit 'n post-postmodernistiese ommekeer is nie? Dat pogings om mense se taal te beheer (soos die kontroversiële transfobie wetgewing in Kanada) staan in direkte kontras met die postmodernisme se inherente wantroue in taal soos uitgewys deur die Post-Strukturaliste, onder meer Dekonstruksie?
DIt is seker moontlik dat hierdie gesprek tog êrens plaas vind en dat ek net nie daarvan bewus is nie, maar die idee wat ek van die openbare diskoers kry, is dat feitlik almal die postmodernisme met die post-postmodernisme misgis.