Opsoek na iets anders, kom ek op hierdie af wat ek op 26 September 2018 geskryf het. Ek het gedink om die oorspronklike dokument uit te vee, en toe dink ek om die droom maar hier te kom plak, omdat ek soms in die verlede ook sulke drome hier gedeel het. Deesdae is ek nie meer seker regtig wat die funksie van die blog is nie... 'n Bêre plek, blyk dit vir my, vir ou herinneringe.
’n Paar dae gelede droom ek dat my ouers is oppad om vir my in my huis te kom kuier. Die huis in my droom was nie hier in Korea nie—ek vermoed dit was in Potchefstroom as ek die omgewing reg herken. Ek kan ook nie veel verder onthou wat in die droom gebeur het nie, behalwe ’n nágevoel wat by my gebly het vir ’n lang ruk, selfs nadat ek met my dag begin het.
’n Paar dae gelede droom ek dat my ouers is oppad om vir my in my huis te kom kuier. Die huis in my droom was nie hier in Korea nie—ek vermoed dit was in Potchefstroom as ek die omgewing reg herken. Ek kan ook nie veel verder onthou wat in die droom gebeur het nie, behalwe ’n nágevoel wat by my gebly het vir ’n lang ruk, selfs nadat ek met my dag begin het.
Dit het my lank geneem, sowat twee dae, om te besef wat aan die gevoel sulke potensie gee. My konklusie is dat ek wens ek het ouers gehad wat my kon sien groot word, en kon sien hoe ek my manstaan in die “grootmenswêreld.”
In die droom was my ouers oppad om my te besoek in mý huis, waarin ek die geleentheid kon hê om gasheer vir hulle te wees. Hierdie is iets wat ek nooit beleef het nie. Weens omstandighede het my ouers my nooit besoek toe ek skool verlaat het en universiteit was nie. Hulle het nie eenkeer voet gesit in die studentekamers wat ek gehuur het nie. Toe ek my eie eerste woonstel gekry het—’n rondawel in die bosse in Mtunzini, het hulle dit nie gesien nie. En, soos die droom uitwys, het ek nooit die kans gehad om my ouers my plek te wys, vir hulle slaapplek te gee, of kos voor voor te berei nie—nie eens in my drome nie, want met die juiste droom het ek wakker geword nog voordat hulle opgedaag het.
Dit is ’n nuwe insig vir my, dat hierdie ’n algemene ritueel in die pad tot volwassenheid is: wanneer die ouers vir hulle kinders kom kuier in die kinders se woning. Moontlik is díe selfs ’n argetipiese ritueel wat meeste mense nie eens besef is deel van hulle ontwikkelingsproses nie; dit is só normaal, maar ook so fundamenteel, as om jou geliefde aan jou ouers vir die eerste keer te gaan voorstel (of om jou geliefde se ouers te gaan ontmoet), of soos daardie eerste salaris wat jy ontvang by jou eerste werk, of jou die eerste keer wat jy seks het. Elkeen van hierdie dinge is ’n tree tot volwassenheid, en wanneer jy op een daarvan uitmis, is jou onderbewuste daarop attend.
Gister, 25 September, sou my pa se verjaardag gewees het. Alhoewel hy tot
’n rype ouderdom van 80+ jaar geleef het, het ek hom as vaderfiguur lankal
reeds verloor. Dit is nog ’n insig wat ek en my jonger broer onlangs gehad het.
Baie mense wat weet dat ons pa verlede jaar gesterf het, besef nie dat ons byna
twee dekades vroeër reeds ’n vaderfiguur verloor het nie. Ja, hy was ons
pa—maar hy was lankal nie meer die vaderfiguurlike simbool wat ’n vader moes
wees nie. Hy het nie voorsien, onderhou, of beskerm nie. Hy kon ons nie leer
wat dit beteken om ’n man te wees nie. Hy kon nie ons suksesse erken, trotsheid
toon of lof deel nie. Dit is ook ’n verlies wat ek meer van bewus raak nou dat
ek self my eie middeljare nader. Volgende jaar sal ek veertig wees.