Thursday 23 March 2017

Skriffelgoed

In 'n slelselmatige poging om my huis (as simbool vir my lewe) in orde te kry, is ek besig om deur die gemors in my woning te werk, wegtegooi, regtepak, te organiseer, te liaseer. 'n Oomblikkie terug kry ek al die penne in my plek bymekaar om mooi in 'n houertjie op my lessenaar te plaas. (Waarskynlik nie al die penne nie -- slegs die ooglopendes. Daar is nog laaie wat ek nie durf uitkeer het nie.)
Daar is byna 30 penne! Sewe-en-twintig om presies te wees. Dit is uitsluitend die seker sowat tien penne wat ek vroeër weggegooi het, omdat hulle nie meer skryf nie. Dit sluit ook nie die gewone gryspotlode in nie, óók nie die witbordpenne en die onderstrepers ("highlighters") nie. Waarvoor het ek byna dertig penne in my huis?! Dit is nie asof ek 'n naskoolsentrum uit my woning bedryf nie! Ek skryf selde per hand (in my huis) -- die meeste van my skryf vind elektronies plaas. Ek het beslis nie al die penne gekoop nie, daaroor is ek seker, want van die goed is heeltemal te lelik en skryf nie eens lekker nie. Ek sien dat ek 'n klomp daarvan gekry het by funksies, soos simposiums, vergaderings, werkswinkels en sulke derglikhede.

Net vir die snaaksigheid loer ek gou in my rugsak om te sien hoeveel skryfgoed ek daarbinne ronddra: agt! Twee penne, 'n swarte (vir algemene administrasie) en 'n rooie (vir merkwerk); drie potlode (twee daarvan is vir teken); en drie ander inkpenne waarmee ek skets. My rugsak is dus aansienlik meer sinvol.

Maar die agt grafiese items is nie al wat ek in my rugsak het nie. Ek het ook 36 gekleurde potlode wat ek saam met my ronddra. Wanneer ek nie die kleurpotlode in my rugsak het nie, dan is daar 20 kwaspenne, óf 'n boksie van 48 óf 64 pastelle.

Dié hoeveelheid kunsmedia kan ek nog verstaan, maar 30 penne?!

Verbasing op 'n stokkie, sonder 'n skryf of teken ding voel ek verlore. Ek gaan nie 'n plek heen sonder om pen/potlood en papier saam te neem nie. 'n Dag sonder die items aan my sy (bv. in my rugsak) sal nie verbygaan alvorens ek nie kompulsief 'n potloot en papier gaan koop het nie. Van kunsbeen af is ek al aan die skryf en teken. Ander kinders het kombersies rond gedra, of fopspene, wat hulle in hulle grootmens gedaante seker met warmlywe en wyn vervang het. Vir my was dit vetkryt en tekenboekies en dié het ek nog nooit ontgroei nie -- slegs die vetkryt is nou bietjie duurder: kwaspenne en 4B potlode.