Tuesday, 11 July 2017

Buitelander

Onlangs het ’n familie-lid sekere aantuigings gemaak omtrent my buitelandse verblyf hier in Korea. Gló is daar ’n obskure rede hoekom ek so ver van my famlie af woon. Alhoewel dit waar is dat ek geen behoefte het om weer in die Vaaldriehoek te woon waar ek groot geword het nie (dit voldoen eenvoudig nie aan my persoonlike behoeftes nie), is dit nie waar dat ek in die Verre Ooste woon omdat ek weg hardloop van my familie of verlede nie: daar is sekere familie naby wie ek graag sou wou woon en na wie ek baie verlang; en wat my verlede betref is ek jammer om mee te deel dat daar is geen donker skandes waarvan ek weg vlug nie.

Nie dat ek aan enige iemand ’n verduideliking van my lewenskeuses verskuldig is nie, nogtans het ek dit goed gedink om te deel—vir interesantheidsonthalwe—hoekom ek in die buiteland vertoef.

Dit is belangrik om te weet dat ek woon nie in die buiteland bloot vir die aardigheid daarvan nie. Ek woon spesifiek in Korea, en nie enige ander land nie, omdat toe ek ’n tiener was ek ’n belangstelling in díe land ontwikkel het. Ek en my ouer broer het in 1994 met die Koreaanse krygskuns Taekwon-Do begin. Die bepaalde tipe Taekwon-Do waarmee ons begin het, het sekere oefen-reekse—sogenaamde “vorms”—wat vernoem is na spesifieke Koreaanse helde, filosowe, historiese gebeurtenisse, of kulturele idees. Byvoorbeeld, die eerste vorm se naam is “Cheon-ji” en beteken letterlik “hemel-aarde”, en is die Koreaanse term vir die skepping; ’n ander vorm is “Hwa-rang” en verwys na die legendariese jong ridders gedurende die Silla-dinastie; daar is ook admiraal “Chung-mu”, die mees bekende see-strategis wat met slegs 13 skepe ’n Japanese vloot inval met 333 skepe verweer het; en “Toi-Gye” die Neo-Konfuciaanse filosoof, digter en kalligraaf; “Eui-am” die vryheidsaktivis, en so meer. Hierdie en ander stories het in my ’n belangstel vir Korea geprikkel, en dit is waarom ek aanvanklik besluit het om Korea toe te kom. Ek koester steeds ’n belanstelling in veral Korea se antieke geskiedenis en filosofie en dit is dan ook hoekom ek selfs ’n doktorsgraad in die rigting (kryskuns-en-oostersefilosofie) bekom het.

Daar is natuurlik ook ander redes vir my vertoef in Korea, waarvan een prominente punt my werk is. Ek wil in die akademie werk en met die huidige politiese klimaat in Suid-Afrika is dit moelik vir ’n witman om ’n werk te kry in my rigtings. Dit is nie onmoontlik nie, maar ook glad nie maklik nie. Elke jaar wanneer ek Suid-Afrika besoek gaan ek by universiteite aan en gesels met dosente, professore en administrateers om ’n idee te kry van die moontlikheid om in ’n Suid-Afrikaanse universiteit ’n werk te kry en ook ’n gevoel te kry vir die situasie daar. Ek is jammer om te sê dat my indruk met elke jaar se besoek meer negatief raak. Dit is nie bloot die nie-blank rasse voorkeur waaraan die instansies moet voldoen nie, maar die dosente en navorsers gaan gebuk onder allerande administrasiewe rompslomp (Google Translate se vertaling van “red tape”). Van my vriende wat dosente (selfs vol-professors) in Suid-Afrika is, soek na groener wyvelde in die buiteland, en van die ouergarde wat nog nie afgetree het nie, kan nie wag om af te tree nie omdat die universiteitsomgewing baie verander het. Verder is daar ook die finansiële kwessie. Aan die begin van hierdie jaar het ek na ’n pos gekyk by een van die kolleges in Johannesburg. Die salaris was so bejammeringswaardig dat ’n mens omtrent nie ’n middelklasbestaan kan maak nie. Geld is nie ’n groot prioriteit vir my nie, maar ek het ook nie jare van my lewe in studies belê om te krepeer nie. Ek wil ten minste ’n normale middelklas lewe kan lei, sonder om elke maand te stres oor hoe ek my huur gaan betaal of kos gaan koop. Ek het al baie swaar gehad in my lewe, en daardie stres ken ek al te goed.

Om ’n belikke inkomste te verdien was nietemin ook ’n rede hoekom ek Suid-Afrika verlaat het. Toe ek besluit het om die tweede keer terug te kom Korea toe, was ek in ’n ernstige verhouding en het ons trouplanne gehad. Ek het gevoel dat dit nodig sal wees om ’n neseiertjie op te bou sodat ons ons nuwe lewe as gesin saam kan begin. Dit is veel makliker om in Korea geld te spaar as in Suid-Afrika bloot omdat ek minder uitgawes hier het. Hier word my verblyf deur my werkgewer verskaf, en weens die uitmuntende infrastruktuur het ’n mens nie in Korea ’n motor nodig nie. Sonder ’n motor is daar dan ook nie daardie addisionele uitgawes soos verslyting en motorversekering nie. (Ek het na sewe jaar in Korea wel vir my ’n tweedehandse kar aangeskaf, maar teen ’n spotgoedkoop prys.) Korea is verder ook ongelooflik veilig in vergelyking met meeste ander lande; inbraak is byna ongehoord, dus is daar nie uitgawes aan sekuriteitsdienste en assuransies nie. Die nasionale mediesefonds wat outomaties van my salaris afgaan beteken dat ’n doktersbesoek my sowat R30 kos, en medisyne is gewoonlik nie veel meer nie. My enigste ernstige uitgawe is kos. Kos was altyd veel duurder hier as in Suid-Afrika, maar met my laate besoek aan Suid-Afrika het ek opgelet dat die pryse daar baie opgegaan het, sodat verskeie items nou dieselfde kos.

Die bogenoemde verhouding het nie uitgewerk nie, soos maar partykeer met verhoudings gebeur. Die spaar vir ’n huwelik was nie die enigste rede hoekom ek nodig gehad het om geld te verdien nie. Gedurende meeste van die tyd wat my pa ’n invalide was, het ek finansiëel bygedra tot sy verblyf en omsien. Ek het groot somme geld bygedra as depositos vir die plotte waarop my broer wat na my pa omgesien het, gebly het. Ek het ook vir jare lank die huur ten volle of ten dele betaal. Ek het verder ook ten tye—jare lank—my jonger broer se huur betaal, of kos gekoop, of bygedra tot studies en ander behoeftes. Gevolglik kon ek my eie studie skuld wat al vanaf my voorgraadse studies saam kom, eers onlangs afbetaal het. Die enigste tyd sedert my pa geskiet en my ma oorlede is, en vandat ek ’n inkomste het, wat ek nie geld “huistoe” gestuur het nie, was vir twee jaar terwyl ek vir my doktorsgraad se klasgelde moes betaal het. Selfs na my pa se afsterwe stuur ek steeds by geleentheid geld aan behoeftige familie en vriende. Hierdie bydraes, vanaf 2006 toe ek die eerste keer Korea toe gekom het, en weer vanaf 2008 toe ek die tweede keer Korea toe gekom het, sou eenvoudig nie moontlik gewees het indien ek in Suid-Afrika gewoon het en daar as dosent gewerk het nie. Dit was dan nóg ’n rede vir my woon en werk hier in die buiteland. Daar was verskeie kere wat ek elders wou heen gaan, of ander dinge wou gaan doen het, maar omdat ek ’n verpligting teenoor my familie gevoel het, het ek maar aangebly waar ek was, al was ek nie altyd gelukkig nie.

Hoe ookal, ek het mynsinsiens ’n goeie werk. Ek werk as Engelse letterkunde dosent en gee onder andere klas in digkuns—een van my groot liefdes. Ek het die vryheid om in meeste van die klasse wat ek aanbied redelik kreatief klas te gee en kan my eie leerplanne en kurrikula ontwikkel. Solank my werk opdatum is, en studente nie ernstige klagtes het nie, is daar nie iemand wat heeltyd oor my skouer loer nie. Ek waardeur die onafhanklikheid. Buiten vir die paar stresvolle weke aan die begin en einde van elke semester, is my werksure baie belik en geniet ek ook lang vakansies. My jaarlikse betaaldeverlof is aansienlik meer as wat ek by ’n soortgelyke werk in Suid-Afrika sou gekry het. Dit is jammer en effe van ’n bekommernis dat my jaarlikse verhogings vanaf my vyfde jaar by die universiteit baie afgeplat het. Met die gevolg dat my salaris nie trek hou met inflasie nie. Alhoewel omstandighede nou nog belik is, en ek darem aan al my normale behoeftes kan voorsien, voorspel ek dat indien die verhouding tussen salaris en inflasie voortgaan soos nou, daar ’n tyd gaan kom wat dit nie volhoubaar gaan wees vir my om aan te bly by my huidge werk nie. Dus, al is ek redelik genoë met my werk, hou ek ook my oë oop vir ander geleenthede, en probeer ek uitkyk vir ander maniere om my inkomste aan te vul. Ek kyk ook na die dramatiese veranderinge wat besig is om plaas te vind wêreldwyd in die onderwys, veral op tersiêre vlak, wat my ook laat vermoed dat die historiese sekuriteit wat universiteitslektore geniet het, is besig om tot ’n einde te kom. Nietemin, solank ek nog ’n goeie werk in Korea het, sal ek hier aanbly totdat ek genoodsaak is om iets anders te kry, of totdat ek beter ’n geleentheid elders vind—of dit nou hier, êrens anders in die wêreld, of terug in Suid-Afrika is.

Dan is daar die maklike toegang tot kuns en kultuur, en ook my krygskunsbelangstelling. Seoul is ’n wonderlike stad vir kuns. Die kunsmuseums is groot, divers, en kry gedurig kunswerke van baie ander lande. Daar is ook verskeie feeste. Ek geniet dit om dansvertonings te gaan kyk, en Seoul bied ten minste vier jaarlikse dansfeeste aan. Internasionale verhoogstukke en musiekblyspelle kom maak ook gedurig hier ’n draai. Natuurlik is die Verre Ooste ook die ideale plek vir iemand met ’n belangstelling in die krygskunste. Toe ek Korea toe gekom het, was ek ’n derde dan (swartbeld) in Taekwon-Do, intussen is ek ’n vyfde dan in Taekwon-Do, vierde in Hapkido, en het ook al verskeie ander krygskunste beoefen. As ek nie in Korea gewoon het nie, sou ek nie soveel geleenthede gehad het om my stokperdjies te beoefen nie.

Met hierdie breedvoerige uiteensetting, hoop ek dat my familie en vriende beter insig sal hê oor die redes hoekom ek in Korea woon, en nie verkeerde aannames sal maak omtrent my verblyf in die buiteland nie.

Ten laaste, om in die buiteland te woon en die wêreld te sien is ’n wonderlike ervaring. Ek raai dit vir enige iemand aan—nie noodwendig langtermyn nie, maar ten minste vir ’n jaar of so. Dit verbreed ’n mens se horisonne, kataliseer selfondersoek en persoonlike groei, help jou om inventaris te neem van wat belangrik is, en kry jou uit jou gemaksone uit. Ongelukkig is daar ook negatiewe punte. Na die wittebroodtydperk in die nuwe land verby is, kom ’n mens agter hoeveel ’n mens mis, veral die geliefdes—familie en vriende—wat ’n mens agter gelaat het. Dit is ook hartseer wanneer mense vir wie jy lief is nie dienooreenkomstige moeite doen om in kontak te bly nie. Dit dwing ’n mens om te rou, maar ook om te sien wie regtig omgee. (Daar is verbasend minder mense vir wie jy ’n prioriteit is, as wat ’n mens aanvanklik gedink het. Die ou uitdrukking “out of sight, out of mind” is baie keer al te waar.) Dit neem ook ’n lang tyd om hegte vriende te ontwikkel in ’n nuwe land en met mense van ’n ander kultuur. Hoe ookal, ’n mens weeg maar voor- en nadele teen mekaar op. Tot dus ver was dit voordelig vir my en ook vir behoeftiges in my familie dat ek hier kon woon. Elke af en toe heroorweeg ek weer die situasie, en alhoewel ek gemaklik is in Korea, mag dit wel eventueel meer voordelig wees vir my om êrens anders nes te skop.

No comments: