Tuesday, 3 June 2014

Gedagtes omtrent lewensmaats

Ou gedagtes het vandag bietjie vir my gekristaliseer terwyl ek in 'n gesprek met iemand was oor wat dit is wat ek in 'n lewensmaat wil hê. Dit het my toe laat besef dat daar is moontlik twee groepe mense, met betrekking tot verwagtinge van hul lewensmaat. Die twee groepe kan basies verdeel word onder 'n “vervul”-groep en 'n “aanvul”-groep.

Aan die een kant is die vervul-groep: daardie mense wat voel dat iets in hulle lewe kortkom, dat daar is 'n leemte in hulle hart wat deur iemand vervul moet word. Dis die groep mense wat soek na 'n anderhelfte om volledig te word. Hulle vind hulle kompleetheid, vervulling, volledigheid in hulle anderhelfte. Daar is iets romanties aan die “you complete me”-idee, en dit raak ongetwyfeld die harte van vele mense, en is daarom nie sonder rede 'n tema in baie romantiese stories en films nie.

Aan die ander kant is die aanvul-groep, wat nie 'n behoefte het om vervul te word nie, en wat nie voel dat hulle onvolledig is nie, en soek gevolglik nie na iemand om hulle te kom voltooi nie. Die aanvul-groep soek eerder iemand om hulle te komplimenteer, 'n eweknie wat hulle aanvul. Hierdie mens kan onafhanklik funksioneer, maar besef ook dat die lewe beter is in 'n vennootskap; dat 'n verhouding is sinergeties, sodat die gekombineerde kragte van twee wedersydsondersteunende mense groter is as die twee afsonderlike kragte op hulle eie.

Ondanks ek al verskeie romantiese gedigte geskryf het wat die vervul-tema promofeer, besef ek dat ek in praktyk nie 'n vervul-mens is nie, maar 'n aanvul-mens. Ek soek nie iemand om my te vervul asof ek tans onvolledig is nie; ek soek nie iemand om my anderhelfte te wees, asof ek tans 'n halwe mens is nie. Ook wil ek nie iemand anders se voltooing wees nie. Ek is 'n volledige mens—met of sonder iemand in my lewe. Tog het ek 'n behoefte aan iemand as 'n getuie tot my lewe, 'n eweknie, 'n lewensmaat om die lewenspad saam te loop. Ek is van mening dat so 'n verhouding kan lei tot ware vervulling, en die vervulling is nie mekaar nie, maar iets groter. In so 'n aanvullende, ondersteunende verhouding kan die twee mekaar help om hulle individuele en gedeelde drome te behaal.

In die eersgenoemde tipe verhouding staan die twee en staar in mekaar se oë, so verlief dat niks anders saak maak nie. In die laasgenoemde tipe verhouding staan die twee hand-aan-hand langs mekaar en kyk in dieselfde rigting.

Soos ek vroeër genoem het, die eerste tipe klink nogal romanties. Die probleem wat ek met hierdie tipe verhouding het, is egter dat die twee persone hoef nie regtig goed bymekaar te pas nie—hulle hoef slegs op mekaar verlief te wees. Ongelukkig waai die verliefdheid oor, en wat dan? Ek dink byvoorbeeld aan my ouers wat getrou het omdat hulle verlief was, maar nie omdat hulle noodwendig goeie (lewens-)maats was nie. Met die jare aan het hulle gevind dat hulle nie veel in gemeen het nie. Ek weet nie van my pa nie, maar ek weet my ma het vir dele van haar huwelik baie alleen gevoel. Dit was nie dat hulle nie lief was vir mekaar nie. Dit was bloot dat hulle nie werklik maats was nie. In my opinie is dit beter om alleen te wees, as om saam met iemand te wees en alleen te voel. Ek is seker toe my ouers getrou het, het hulle in mekaar se oë gekyk en gedink dat solank hulle mekaar het, sal dit genoeg wees. Dit is eenvoudig nie die geval nie. 'n Mens moet nie 'n ander persoon die bron van jou geluk maak nie. Geen mens kan daardie verantwoordelik dra nie.

My idee van 'n ideale verhouding (indien so iets bestaan) is nie twee halwe mense wat mekaar heel maak nie, maar twee heel mense wat mekaar komplimenteer. Dis nie twee mense wat verskillende note van dieselfde melodie sing om een volledige deuntjie te maak nie, maar eerder twee mense wat verskillende note in dieselfde sleutel sing—wat in harmonie sing.

Ek hoop so 'n verhouding is ook vir my beskore, maar indien nie, gaan die lewe aan. Ek sou verkies om 'n duet te sing, maar ek gaan nie ophou sing terwyl ek alleen is nie.

2 comments:

boerinballingskap said...

Goeie uiteensetting. Ek dink ek deel jou gedagtes rondom hierdie kwessie.

Skryfblok said...

Dankie Boer,

Maar dit is waarskynlik hoekom ons nog enkellopers is. Haha!