Wednesday 17 August 2011

Gedagtes omtrent selfportrette


'n Vriendin stuur gister vir my 'n boodskap en sê dat Rembrandt se 1630 selfportret haar aan my eie selfportrette laat dink. Ek het nooit van te vore aktief my neiging tot selfportrette (gewoonlik in die vorm van digitale fotos, maar soms ook as sketse) vergelyk met die van ander (bekende) kunstenaars nie, maar die selfportret is 'n goedgevestigde tradisie onder kunstenaar.


Wat ek skielik besef het, is dat die selfportret nie ekshibisionisme nog narsisisme is nie. Vir 'n ekshibisionis is die primêre gehoor juis nie die self nie, maar die ander. Die ekshibisionis kry sy of haar prikkel daarin om sy of haar liggaam of persona te vertoon aan 'n gehoor. Vir die ekshibisionis is die kunsproses grootliks irrelevant. Daar is nie juis 'n selfbepeinsing nie. Nie 'n selfondersoeke nie. Bloot 'n selfvertoning. Die fokus is uitsluitelik uiterlik geprojekteer.

Die kunstenaar se selfportret verskil hierin omdat die primêre gehoor nie die ander is nie, maar die self. Die primêre fokus is nie uiterlik gerig nie, maar innerlik. En daar is klem op die kunsproses. Die kunsproses wat die genot bring, maar deur die proses vind ook introspeksie plaas. Die proses fasiliteer selfondersoeke, wat ek glo een van motiverings vir die selfportret is. Die selfondersoeke is tweedelig. Dit is inderdaad 'n selfondersoeke van die psigo-analitiese aard (of miskien in die ouer bygelowige tradisie dat 'n mens se karakter in sy gelaatstrekke bespeur kan word, byna soos die afmetings van jou skedel jou persoonlikheid kan ontbloot, of jou palmlyne jou fortuin kan verklap). Tweedens is die selfportret vir die kunstenaar 'n weerspieëling van sy of haar kunsvaardigheid. Weens die bekendheid van die tema kan die kunstenaar makliker die vlak van sy of haar kunsvaardigheid bepaal. Die selfportret is in baie gevalle 'n selfveroordelende aktiwiteit.

Narsisisme is ook selfondersoekend, maar narsisisme verskil daarin dat dit nie 'n (kuns)proses vereis nie. Die selfverliefde vind genoegsaam bevrediging bloot in sy of haar refleksie in 'n spieël. Dit lei nie na selfondersoekende selfveroordeling nie, eerder selfprysing. Omdat daar nie juis 'n "proses" is nie, is daar ook nie juis 'n "bepeinsing" nie. In hierdie opsig is daar 'n hedendaagse weergawe in die vorm van selfoon-selfportrette wat hier in Korea as "selca" bekendstaan--"self-camera". Terwyl ek glo dat party van hierdie selcas vir dieselfde redes gedoen word as my selfportrette en die selfportrette van ander kunstenaars (die kreatieweproses as medium tot selfondersoeke), is die meeste selcas eenvoudig die vervanging van die spieël met die selfoon.



Rembrandt het in sy lewe verskeie selfportrette geskilder sodat 'n mens duidelik die ouderdomsproses kan bespeur. En dit verstaan ek ook. Ek het lank terug begin om 'n selfportret-foto te neem, elke jaar op my verjaarsdag. Anders as ander verjaarsdagfotos wat geneem word om die dag te herdenk en te onthou, is hierdie verjaarsdagselfportrette se doel baie meer spesifiek. Ek wil sien hoe ek oud word. Hoe my gelaatstrekke verander. Hoe my neus en ore en plooie groei. In die opsig is dit die direkte inversie van die narsisis se obsessie met sy of haar ewigjeugdige skoonheid. Dis nie die vasvang van ewige jeug nie, maar eerder die vasvang (en betreuring?) van konstante veroudering. Dis duidelik 'n kunstenaarsaktiwiteit wat seker slegs gedeel word met filosowe en ontwikkelingspsigoloë.

No comments: