Pages

Tuesday, 18 July 2017

My ITF Taekwon-Do private oefenspasie in Seoul, Suid-Korea

Kort na my tweede terug keer na Korea in 2008 (ek was van te vore hier vir ’n jaar), het ek uiteindelik ’n Taekwon-Do skool ontdek wat dieselfde tipe Taekwon-Do doen as wat ek doen. Ondanks ITF (International Taekwon-Do Federation) Taekwon-Do in Suid-Korea se weermag ontwikkel is, en as ’n internasionale organisasie hier in Seoul in 1966 geregistreer is, is daar ironies omtrent geen ITF Taekwon-Do skole in Suid-Korea nie. 

Die rede is dat die stigter, ’n voormalige tweester weergmagsgeneraal, Choi Hong-hee, was teen die diktator-president Park Chung-hee gekant. Choi en sy onderdane het die weermagskrygskuns Taekwon-Do ontwikkel, omdat die jong Suid-Korea op daardie stadium nie ’n gevegskuns vir die soldate gehad het nie. Park óók ’n generaal in die weermag het meer persoonlike ambisies gehad. Hy het staatshoof geword na ’n weermagsgedrewe staatsgreep. Park was veronderstel om slegs vir ’n kort rukkie aan bewind te wees, net om orde te herstel in die gebrekkige land, and dan sou hy kwansuis weer demokrasie herinstel. Soos gewoonlik die geval met mense wat aan bewind kom, was hy glad nie gretig om sy mag op te gee nie, en het selfs die konstitusie verander sodat hy langer aan bewind kon bly. Choi Hong-hee was gekant teen Park se klaarblyklike oneindige magsdrang. Park was natuurlik nie in sy noppies met die idee dat Choi, ’n generaal wat al hierdie krygers in die weermag onderhom het, hom teen staan nie, en het toe beplan om Choi te laat sluipmoord. Iemand het Choi van die planne laat weet, en so het Choi een aand uitgesluip en verdwyn. Hy het later in Kanada sy verskyning gemaak, waar vandaan hy met ’n goeie groep sterk Taekwon-Do meesters ITF gebou het tot ’n waarlik internasionale krygskuns. Park het waarskynlik onveilig gevoel met soveel soldate en burgers wat bevoeg is met ’n krygskuns wat moontlik hom kon ontverwerp, en het gevolglik veranderinge aangemoedig, sodat Taekwon-Do in Suid-Korea stelselmatig verander is in ’n gevegsport, eerder as ’n outentieke krygskuns. In die vroeë 1970’s is die WTF (World Taekwon-Do Federation) gestig. Sederdien is daar twee hoofstrome van Taekwon-Do in die wêreld. Die krygskuns gefokusde ITF, en die gevegsport gefokusde WTF. (WTF het vanjaar hulle naam verander na World Taekwondo, of te wel WT.)

Toe ek dus in 2006 in Korea aankom, kon ek nie ’n ITF skool vind nie. In 2008, met my tweede koms na Korea kon ek uiteindelik aan die einde van die jaar ’n ITF skool ontdek. Die enigste ITF skool in die hele Seoul-distrik. Darentee kan ’n mens gewoonlik meer as een WTF skool in elke buurt vind. Sedert 2008 was ek deel van daardie ITF skool, en het selfs daar begin afrig, as een van die ITF instrukteurs. Mettertyd het ek die hoof-instrukteur onder Meester Kim Hoon geword. Ons het baie geheg geraak aan mekaar, en hy het selfs vir my gesê dat ek moet hom as “ouboet” (in Koreaans) aanspreek, eerder as “afrigter”. Vir omtrent agt jaar was ek saam met Meester Kim Hoon, en vir ten minste vyf jaar was ek die hoof Taekwon-Do instrukteur by sy skool.  Sy gimnasium het verskeie aktiwiteite aangebied: Taekwon-Do, skopboks, stoei, Cross-fit, en pilates.

Meester Kim Hoon het voltyds krygskuns en ander aktiwiteite afgerig vir sowat 20 jaar. Die gimnasium het gewoonlik 9:30 of 10:00 oop gemaak, en sy laaste klas het rondom 22:00 geeindig. Hy was uitgeput, en het vele kere aan my onthul dat hy moeg is, en dat hy op ’n verlengde vakansie wil gaan, en die wêreld gaan toer. Uiteindelik, in Mei van hierdie jaar, het hy besluit om dit te doen. Aan die einde van Mei het hy die skool gesluit en ek is namens hom bly dat hy tans in Brasilië is, met ’n toer in Suid-Amerika.

Ongelukkig het dit ook beteken dat aan die einde van Mei-maand was ek skielik sonder ’n plek om te oefen en afterig. Ek het ’n handjie vol studente wat onder my geoefen het, en al ver gekom het, maar nog nie hulle swartbelde het nie. Ek het ’n verantwoordelikheidsin teenoor hulle gevoel, maar ook wou ek verseker dat ITF Taekwon-Do voortleef in Suid-Korea se hoofstad, al is dit net as ’n klein saadjie wat hopenlik eendag weer kan ontkiem en ’n grootboom word. Verder, jaarliks kom daar toeriste van heinde en verre Suid-Korea toe, mense wat ITF Taekwon-Do in hulle tuislande beoefen, en graag die vaderland van Taekwon-Do wil besoek en beleef. Ook vir dié mense wou ek ’n klein ITF-tuistetjie bied. Hoe tragies om al die pad Korea toe te kom, maar nie ITF Taekwon-Do te kan oefen nie.

Uiteindelik het ek besluit om ’n klein spasie te huur vir hierdie doeleinde. Ek het ’n dak-kamer gekry, in die middel van Seoul en het aan die begin van Julie daarheen geskuif. Dit is basies ’n enkelkamer op ’n woonstel se dak. Die kamer is waar ek toerusting soos slaankussings, fokusteikens, en ander krygskunsverwante gereedskap kan stoor. Dit sal ook moet dien as oefenspasie tydens slegte weer: reën of wintersmaande. Die dakspasie buite is waar die meeste van die oefening plaasvind. Die plekkie is nie ideaal nie, maar dit is al wat ek nou kan bekostig. Ek kon nie die groot gimnasium van Meester Kim Hoon oorvat nie (ek het in elk geval ’n werk, en wil nie ’n voltydse gimnasium ook probeer behartig nie), en met net ’n handjievol studente (moontlik twee ernstiges) het ek maar besluit op die dakspasie vir nou.




Die beoefening van krygskunste op dakke is eintlik nogal ’n tradisie in die stede van die Ooste. Selfs die bekende Bruce Lee se eerste instrukteur Ip Man het klas gegee op ’n dak in Hong Kong, en dit is waar Bruce Lee se krygskunsbasis gevorm is. Vir ten minste ’n jaar (die lengte van my huurkontrak) volg ek dan ook nou in die spore van Oosterse krygskunstenaars van die vorige eeu wat hulle dissipline op stadsdakke beoefen het. Ek gaan nie geld kan maak met hierdie affêre nie. Die spasie is te klein om meer as ’n handvol studente, dalk so min as drie of vier op ’n slag, te kan hanteer. Ek sal dalk af en toe ook privaatklasse daar aanbied, maar soos wat dit vir my lyk is hierdie uiteindelik meer ’n liefdesdaad as enige iets anders. Ek hoop maar net dat ek genoeg studente het dat ek nie ’n te slegte verlies maandelik sal lei nie.

En so het dit dan nou gebeur dat ek ’n klein privaat dojang op ’n dak in die middel van Seoul het. Gisteraand het ek buiteligte gaan hang, en vanaand se oefening was heerlik, so met die bekende Suidberg (Namsan) en Seoul-toring in die agtergrond.

No comments:

Post a Comment