Ek lees X se brief en ek voel . . . ek voel 'n ou sensasie.
Gaan ek nooit oor jou kom nie? Jy is soos potpourri in die laaie van my onderbewussyn. Die skraalste steurnis en jou geure walm soet in my herinneringe op. Jy klou aan die klere van my geheue en draai ek my kop te vinnig, of beweeg ek te onverwags, dan roep my verbeelding die reuk van ons verlede in vars emosies op, asof die kruie van ons verhouding sopas onder groenvingers gekneus is.
Hoe is dit dat ek steeds, na soveel jare, steeds so maklik weer verlief op jou kan raak? Ek is nie verlief nie . . . maar ek weet dat jy die ou kole met die karigste blaas uit jou longe weer kan laat opvlam. En ek voel magteloos om dit te verhoed. Nie eens aan die anderkant van die wêreld is ek totaal van jou toorkuns veilig nie!
En ek kan nie ophou wonder hoekom ons lewenspaaie nie bymekaar kom nie? As dit dan bedoel is, hoekom sinkroniseer ons doele nie? As dit dan ons noodlot is, hoekom laat val die lot nie ons dobbelstene op dieselfde nommers nie? As dit dan ons voorland is, hoekom beland ons nie in dieselfde tyd-ruimte nie?
X.
Ek mis jou steeds.
Verflaks!
Ek mis ons steeds!
Jy het nou eenmaal 'n manier met woorde. En ek kan nogal assosieer met hierdie emosies wat jy hier uitdruk. Sommige herinneringe sterf bloot nooit...
ReplyDeleteSulke onsterflike emosies is soms 'n beslommernis! Maar in dieselfde asem, ek's nogals sentimenteel daaroor en wil ook nie heeltemal dit verloor nie. Aai!
ReplyDelete