Pages

Wednesday, 7 September 2011

Ek skrik nie vir Afrikaans se "nieë" nie

Vroeër vanaand skryf ek 'n gedig. In die eerste reël val dit weg met 'n dubbelnegatief:  "Verewig is nie soos 'n leeftyd nie". Ek kyk toe bietjie terug na van my ander gedigte en kom op hierdie een af waar ek die nieë sommer so reël op reël ryg: "[wanneer jy sterf] gaan ek nie geboorte gee aan trane nie— / die Dood verdien nie geboortes nie / ek gaan nie eerbiedig knik nie / my huid formeel in swart omlyf nie / of lelies vir só okasie rangskik nie—".

Ek is nie bang vir Afrikaans se dubbel-nie nie. Baie digters vermy die dubbelnegatief omdat hulle dit 'n hindernis vind wat rym betref, maar ek glo 'n mens kan steeds effektief die dubbelnegatief gebruik in rym. Kyk bevoorbeeld na die eerste stanza in hierdie gedig van my:

My geliefde het die pad gevat,
opgerol en oor haar skouer gegooi.
Ek kan g’n spoor vind om te sny nie,
haar lyn is op g’n kaart te kry nie.

Die geheim is nie om die nieë tot eindrym te beperk en sodoende 'n inherente (en oninteresante) rym te bewerkstellig nie. In plaas van eindrym speel 'n mens met die binnerym. Die onderstaande versie getiteld "Versoen" is 'n voorbeeld van wat ek bedoel.

laat ons nie te haastig wees
om die liefde totsiens te soen nie –
’n gesoenery is in elkgeval bedoel
vir versoenery en nie groetery nie.
Alhoewel ons hier "nie" in die eindrymposisie in reëls twee en vier het, is die rym vroeër reeds gevestig as binnerym. Dit begin in reël een met die eerste van die twee dubbelnegatiewe, maar die binnerym herhaling vir daardie eerste "nie" vind ons in reël twee in die [ie]-vokaal in "liefde" en "totsiens". Die viertallige herhaling van "nie" word geballanseer deur ander binnerym, byvoorbeeld die herhaling van die [oe]-vokaal ("soen", "gesoen-", "bedoel", "versoen-", "groet-") en die [y]-diftong ("gesoenery", "versoenery", "groetery").


Hier is nog een vol nieë.

As ek sterf, grawe nie 'n diep graf
vêr van die son af nie;
grawe vir my 'n vlak graf
sodat ek nie koud kry nie.
Tot dan, hou nie jou hart vêr
van my af nie; bly vlak neffens my.

'n Mens kan argumenteer dat hierdie gediggie sou baat deur van die dubbelnegatiewe te verwyder. Ek kon die gedig byvoorbeeld geskryf sonder 'n paar van daardie nieë en onmiddelik beter eindrym tot gevolg gehad het:

As ek sterf, grawe nie 'n diep graf
vêr van die son af;
grawe vir my 'n vlak graf
sodat ek nie koud kry.
Tot dan,
hou nie jou hart
vêr van my;
maar bly vlak
neffens my.

Die gedwange eindrym dra min by tot die natuurlike vloei van die gedig. Dit lees, selfs met die reëlafkappings, lomp. Die natuurlike ritme wat ons in Afrikaans verwag in 'n negatiewe sinsnede ontbreek. Dit kan natuurlik die bedoeling van die digter wees om die verwagte ritme teen te gaan, maar sodoende dwing 'n mens 'n fokus op die noodwendige manipulasie van die taal in poësie, wat mynsinsiens die intuïtiewe kommunikasie van die gedig onderbreek.

My punt is eenvoudig. Daar is geen rede om te skrik vir Afrikaans se nieë nie, selfs nie in die digkuns nie. Om die waarheid te sê, ek dink dit bring 'n aangename eiesoortige ritme aan Afrikaans. Dit funksioneer ook as 'n wonderlike benadrukking van die negatief. Wanneer jy onnodig met die nieë begin peuter, vestig jy aandag op iets wat nie noodwendig aandag vereis nie, en onttrek jy daardeur van dit wat jy hoofsaaklik wou kommunikeer.

Sommer maar net 'n paar middernagtelike gedagtes. Aai, ek moes al lankal bedtoe gegaan het!

No comments:

Post a Comment