Ek was verras om te verneem dat die redakteur van pyp-aanlyn my kortverhaal “’n Postmoderne Avontuur” geplaas het. Alhoewel ek bestuurder is van die pyp-aanlyn-projek, is dit Alwyn Roux, as redakteur, wat grootliks verantwoordelik is vir die inhoudelike materiaal. Ek het nie die storie voorgelê vir publikasie op die webblad nie. Alwyn het dit waarskynlik uit een van ons ou uitgawes van die Pyp-joernaal opgegrawe en dit op die web geplaas.
“’n Postmoderne Avontuur” is sekerlik een van die belangrikste stories in my ouvre. Ek het die storie geskryf as deel van die praktiese komponent van my meestersgraadverhandeling. Die storie was geskryf met ’n baie spesifieke doel in gedagte; basies om my hipotese te bewys. My verhandeling het gehandel oor postmoderne karakters. Ek het met my navorsing drie tipe postmoderne karakters geïdentifiseer en voorgehou dat hierdie karaktertipes kan met bepaalde skryftegnieke binne ’n paradigma deur ’n skrywer geskep en voorgestel word. In hierdie kortverhaal het ek al drie karaktertipes op een karakter van toepassing gemaak. Alhoewel hierdie nie die enigste kortverhaal is wat ek vir my verhandeling geskryf het nie, is dit sekerlik die belangrikste een gewees om my teorie te “bewys.”
Lees gerus “’n Postmoderne Avontuur” by pyp-aanlyn en laat weet my wat jy dink.
Ek skryf deesdae bitter min. Dis nie heeltemal waar nie. Eintlik skryf ek nogal baie—omtrent daagliks. Ongelukkig skryf ek nie juis kreatief nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n gedig geskryf het nie, en dit was nog langer sedert ek laas ’n kortverhaal geskryf het. Ek is grootliks besig met ander tipe skryfwerk, meestal semi-akademies van aard. Ek skryf gereeld opstelle (essays) en het byvoorbeeld ’n paar dae terug ’n essay geskryf vir die aanlyn krygskunstydskrif Totally Tae Kwon Do. Ek is tans besig met nog ’n essay vir hierdie tydskryf. Die vorige week het ek ’n essay geskryf vir ons departement se tydskryf omtrent Konglish ("Korean English"). Om die waarheid te sê ek mis dit om kreatief te skryf. Vanoggend het ek gedroom van ’n vrou en haar twee kinders wat terug kom Suid-Afrika toe nadat sy en haar man geskei is en sy nie langer in Engeland wil woon nie. Skaars terug in Suid-Afrika word sy beroof en so vind sy haarself platsak met twee kinders. Die familie trek toe heel sluuks in ’n hipermark in en slaap saans in die meubelafdeling en steel kos uit die kosrakke. Dit is ’n kortverhaal “in the making,” met intriges oor hoe hulle die kameras en sekuriteit ontduik, en die hele sentrum senuagtig oor die “spoke” is. Alhoewel kreatiewe skryfwerk meer natuurlik vir my kom en ook lekkerder is as ander tipe skryfwerk, verg dit ook meer psigiese energie. My werksdruk laat my gewoonlik te moeg om kreatiewe werk te doen. Of, indien ek aan iets kreatiefs begin werk hou dit my veels te maklik uit die slaap omdat kreatiwiteit soveel energie afgee eens dit aan die vloei is. Slapelose nagte omdat ek aan kreatiewe projekte werk is nie iets wat ek tans kan bekostig nie. Gelukkig het ek ’n vakansie wat voorlê waarna ek baie uitsien.
Hallo Sanko! Ek moet bieg, ek hou regtig baie van die kortverhaal en omdat dit reeds voorheen in Pyp gepublish was, het ek die "vrymoedigheid" geneem om dit op Pyp se website te publish. Erm, ek hoop nie jy gee om nie? Jy behou immers al die kopiereg :-). Lekker om die stuk te lees.
ReplyDeleteEen vragie: Hoe het jy te werk gegaan met die skryf van die storie? Het jy "geleen" uit boeke wat mens leer hoe om kortverhale te skryf?
Groetnis,
Wyn
NS die "stuk" waarna ek verwys is die stuk wat jy op die blog oor jou kortverhaal geskryf het.
ReplyDeleteHi Alwyn. Ek was nie bewus dat jy soms 'n draai maak hier op "Skryfblok" nie. So toe vang jy my uit dat ek bietjie van jou geskinder het! lol
ReplyDeleteEk gee nie om dat jy die kortverhaal geplaas het nie; soos jy terug uitwys, ons het dit voorheen in die Pyp-joernaal geplaas, dus hoort dit ook op die webblad.
Omtrent hoe ek te werk gegaan het om die storie te skryf . . . Wel dit is waaroor my meestergraadverhandeling gegaan het, hoe om karakters te skep en voor te stel. In my verhandeling bespreek ek in detail verskillende metodes van karakterskepping en –voorstelling. Verder bespreek ek die drie tipe postmoderne karakters—karakters wie se identiteit postmoderne mense reflekteer; karakters wat postmoderne dinge aanvang, soos om met die skrywer te gesels of ander literêre reëls te oortree; en karakters wat postmoderne (politieke) diskoerse aan die gang sit. Ek gee dan verder in die verhandeling voorstelle hoe om hierdie drie tipe karakters te skep en te karakteriseer (voor te stel).
Wanneer ’n mens die kortverhaal analiseer sal jy oplet dat daar eintlik nie veel van ’n storie is nie. Die fokus is nie op ’n storie nie, maar hoofsaaklik op karaktervoorstelling. Dis grootliks ’n gesprek tussen twee karakters (waarvan die verteller, aldus die “skrywer,” een karakter is). Die “karakter” in die kortverhaal word deurentyd “herskep” deur van verskillende voorstellingstegnieke gebruik te maak.
Daar is nie juis ’n storie nie, maar wel ’n gesprek oor stories. Dit is weereens tipes van postmoderne verhale wat “selfbewus” is.
In kort, die verhaal is basies ’n eksperiment in die voorstellingstegnieke wat ek in my verhandeling voorhou.
Ek is veronderstel om nog ’n artikel hieroor te skryf, maar kon nog nie ’n akademiese tydskrif in die hande kry wat fokus op skryfkuns as vakrigting nie. Daar is baie tydskrifte wat kreatiewe werk publiseer, maar bitter min tydskryf wat fokus op skryfkunsteorie.