Pages

Tuesday, 19 January 2010

Skoolvriende, God, briewe, en kinders

Ek is in kontak met slegs vier skoolvriende en het Dinsdag die voorreg gehad om twee skoolvriende te sien.

[Image Source: Les Dragons]


Verlede Dinsdagoggend kon ek by Stuward aangaan. Stuward en ek het vriende geraak in die Biologie klas. Ons het langsmekaar gesit en toevallig uitgevind dat ons albei ’n belangstelling in fantasie-avonture en strokiesprentboeke het. In plaas van oplet oor biologie het ons prentjies geteken van drake en towenaars in vurige en magiese konflikte. Ons liefde vir lees was ’n gedeelde passie, alhoewel Stuward baie meer as ek gelees het – sy leesvermoeë het my verstom, en die spoed waarmee hy boeke verorber het was iets prysenswaardig. Ons kuiers is steeds grootliks gebasseur op boeke en “groot” gedagtes. Ons gesels graag oor mitologie en relegie, alhoewel ons van heeltemal verskillende godsdienstige oortuigings is. Ons deel ook beide ’n passie vir die krygskunste (ITF Taekwon-Do in besonder) en anime (Japanese animasie-tekenprente). Ondanks ek en Stuward in feitlik totaal verskillende wêrelde leef, met uiters verwyderede beroepe en lewenswyses is ons kuiers altyd genotvol. Het ek genoem dat Stuward ’n katmens is? Sy vrou Ria het my ook aangeneem as deel van die gesin en daar was selfs op ’n stadium ’n Sanko-kamer in hulle huis. Ek is seker as tyd en geografie meer kuiers toe gelaat het, sou die Sanko-kamer byna onmiddelik weer tot bestaan geroep word.

Dinsdagaand het ek gaan kuier by Howard en sy gesin, Natasha en die twee dogters. Nats het ’n heerlike maal gemaak, met verskeie groentes en vleis. Ek het lanklaas sulke lekker groentes geëet – eenvoudig voorberei sodat die natuurlike smaak van die plant na vore kom. Nes Stuward, het Howard en ek mekaar leer ken op hoërskool. Ons het beide op plase ver uit die dorp gebly sodat daar geen busvervoer huistoe was nie, en gevolglik het ons smiddae lank by die skoolhek gewag vir ons moeders (of iemand anders) om ons te kom optel na skool. In hierdie wagtye het ons kans gekry om te gesels en mekaar te leer ken, maar ons het eers werklik begin vriende raak in standard nege en matriek toe ons begin om in dieselfde vriendekringe te beweeg. Maar dit is op universiteit waar ons waarlik gegroei het tot boesemvriende.

My ma, ek, en Howard het eenkeer ’n ver rit geneem – die totale heen-en-weer tyd was sowat twee ure in die kar – waartydens ek en Howard land en sand gekuier het. Na die tyd het my ma genoem hoedat ons sonder ophou gesels oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Dit was veertien jaar gelede en niks het verander nie. Ek is van mening dat ’n teken van ’n goeie vriendskap is om nie ongemaklik te wees in mekaar se teenwoordigheid wanneer daar stiltes is nie. Ek weet dat ek en Howard nie ongemaklik sal wees indien daar stiltes moet wees nie; die feit is bloot dat daar byna nooit sulke stiltes voorkom nie. Soos met Gerhard kan ek en Howard oor ’n magdom onderwerpe gesels. Deels die rede is omdat ons mekaar se breintipes baie goed aanvul. Ek is ’n kreatiewe mens met belangstelling in die wetenskappe en hy is ’n logiese mens met ’n kreatiewe streek.

Ons gesprek Dinsdagaand het uiteindelik gelei tot godsdienstige onderwerpe en Godsbeelde, met ander woorde, hoe verstaan en “sien” ons God. Ek het ook aan hom gedeel dat ek sukkel om myself ’n “Christen” te noem – nie omdat ek my oortuigings betwyfel nie, maar omdat ek myself nie kan assosieer met die tipiese Christen nie. Godsbeelde beïnvloed inderdaad die “God” wat mense aanbid. As jy glo dat God iemand vir ewig-en-veraltyd in die hel martel vir ’n 70-jaar leeftyd se sonde, en ek glo dat God dit nie sal doen nie (eerder dat die hel ’n toestand van vernietiging, nie ’n ewige martelkamer is nie), dan het ons mos verskillende Godsbeelde, en aanbid ons as te ware ’n verskillende God. Dus het die woord Christen ook verskillende betekenisse omdat ons verskillende geloofsoortuigings dra. Wel, die grootste gros Christenne glo inderdaad dat God ’n sadis is, en omdat ek dit nie glo nie, vind ek dit vreeslik moeilik om myself met dieselfde etiket te omskryf.
Ons gesprek het verder gelei tot ’n bespreking oor die aard van sonde. Ek het met hom gedeel dat ek verstaan sonde eenvoudig as selfsug, wat die teenoorgestelde van liefde is. Dit het ’n lekker diskoers te weeg gebring waartydens ons onder andere kinders se inherente selfsug bespreek het (hy’s mos ’n pa en het ondervinding daarin dat kinders onselfsugtigheid geleer moet word), en ook bespiegel het oor die sondige aard (of nie) van areas waaroor die Bybel redelik vaag is, soos seksdrang en voorhuwelikse seks, iets wat op my vantoepassing is as ’n enkellopende “Christen” man.

Voordat Howard en Natasha saam was, was ek en Nats fliekvriende. Omtrent elke Vrydagmiddag op universiteit het ek en sy die jongste fliek gaan kyk. Ek het gevolglik gedink dat hulle twee nogals ’n oulike paartjie sal maak (aangesien beide my vriende is), maar moet bieg dat toe hulle mekaar eers gevind het ek nogals jaloers op hulle tyd saam was, want dit het beteken dat ek minder tyd met elkeen van hulle kon hê. Terwyl dit aanvanklik ’n moeilike ding vir my was, was dit ook ’n goeie leerskool en het dit my gedwing tot groter onafhanklikheid; ’n baie seer, maar waardevolle les.

 
Howie en Nats se dogters is baie spesiaal vir my. Omdat ek twyfel dat ek ooit self ’n ouer sal wees, verheug ek my in die kroos van my geliefde vriende. Ek het besluit om ’n band met die kinders te smee en het daarom besluit om hulle briewe-oom te word en het onlangs begin om vir hulle briewe te skryf. Vandag se kinders word met selfoonteksboodskappe en e-posse groot en mis uit op die betowerendheid van handgeskrewe briewe wat ’n mens in die posbus (’n regte posbus, nie ’n “Inbox” nie) ontvang. Moontlik kweek dit ook in hulle ’n liefde vir lees en skryf. Die dogters is nog baie jonk, slegs vier en twee jaar onderskeidelik, gevolglik is die briefies ook maar baie kort – net ’n enkele paragraaf of twee. Ek was geïnspireer om hulle briewe-oom te word, gedeeltelik deur C. S. Lewis (die skrywer van die Narnia-boekreeks) wat graag kort briefies aan kinders gepos het omdat hy self ook die lekker ervaring van briewe-in-die-pos-ontvang met die kinders wou deel. Sover het ek nog net eenkeer vir die dogters geskryf, maar hulle was glo uit hulle velle van opgewondenheid. Ek is verheug om te hoor dat my intensie suksesvol is, en sal dus voortgaan daarmee. Dit was ook goed om ’n kans te kry om hulle nou onlangs in die vlees te sien. Dit gee my ’n beter idee van wat hulle belangstellings is, sodat ek hulle briefies dienooreenkomstig kan aanpas. Beide meisies het heeltemal verander sedert ek hulle ’n jaar gelede gesien het. Kinders groei darem maar so vinnig. (Ek kan nie glo dat ek daardie laaste sin geskryf het nie – dit klink na iets wat ’n ou tannie moet sê!)

No comments:

Post a Comment