Onlangs skryf ek aan twee vriendinne min of meer dieselfde e-pos. Ek verduidelik dat ek nie van hierdie wêreld hou nie, ek hou nie van die manier waarop korrupte regerings hulle agendas ten koste van die massas te weeg bring nie, ek hou nie van inherente selfsug orals nie; en ek sou graag wou trek na ’n ander planeet. In die verlede kon mense wat nie van hulle tuisland hou nie op ’n skip klim en na ’n ander (moontlik beter) plek gaan. Maar vandag is dit nie meer ’n opsie nie weens globalisasie. Ons lewe in ’n “global village”, so al trek ek na ’n ander land is ek steeds deel van dieselfde “global village.” Maar wat gemaak as ek nie meer deel van die “global village” wil wees nie?
My twee vriendinne is beide profesionele mense. Die een is ’n filosoof, die ander ’n sielkundige. Hier is hulle onderskeie antwoorde aan my:
Die Filosoof
Lank terug, voor globalisasie, het die versugting om te ontsnap op 'n ander manier sin gemaak as in vandag se tyd. Verskillende gebiede was werklik baie verskillend van mekaar en dit was moontlik om deur middel van geografiese (en kulturele) afstand weg te kom van die dinge in die wêreld waarvan mens nie hou nie. Die skeidslyn hier ter sprake was dus gebiedsgrense.
In vandag se tyd, na globalisasie, beskik die global village klaar oor die "beste" en die "swakste" van (nie al die beskikbare wêrelde nie, maar) een of miskien twee dominante wêrelde, sodat die ander wêrelde nie regtig meer beskikbaar is nie. Om geografies weg te gaan is nou sinneloos, want daar is nêrens anders om heen te gaan nie.
Die enigste manier waarop die "ontsnapping" nou kan sinmaak, is as die skeidslyn waaroor jy moet ontsnap na (1) die lyn tussen die innerlike en uiterlike van elke individuele mens, en (2) na die lyn tussen die transendente en nie-transendente verskuif word.
Indien (1) die lyn verskuif na die innerlike en uiterlike van elke mens, dan gaan dit oor hoe jy jouself (innerlik) in die wêreld (uiterlik) posisioneer. Hiervoor bestaan daar drie opsies: (a) om heeltemal in die wêreld te staan en dus "van die wêreld" te word. Jy gee dus jou innerlike prys en aanvaar die uiterlike status quo, (b) om die ander teenoorgestelde pool te kies en jouself heeltemal van die wêreld te onttrek. Jy gee dus die uiterlike heeltemal prys en word 'n soort askeet, of (c) jy besef dat jou huis in hierdie wêreld is (jy is tuis in die uiterlike) maar jy gee nie jou innerlike prys nie. Jy doen dit deur die wêreld van binne af te probeer hervorm sodat dit begin lyk soos die ideale utopia waarnaa jou versugting is.
Indien (2) die lyn verskuif na die skeiding tussen transendente en nie-transendente, dan sal die mens se bestaan gerig wees op die transendente (wat hom uit hierdie wêreld en uit homself kan neem). Meestal loop hierdie weg op 'n soort mistiek uit.
Jy sal oplet dat beide opsies (1) (a) en (b), asook opsie (2) op 'n soort dualisme uitloop. Dit sal 'n onvolhoubare spanning teweeg bring - die een uiterste gaan heeltyd in sy teenoorgestelde oorslaan.
Opsie (1) (c) probeer albei die dele van realiteit tegelyk handhaaf, en behoort dus meer volhoubaar te wees (aangesien beide dele sonder spanning tot hulle reg kom). Die vraag by opsie (1) (c) is seker hoe "verander 'n enkele mens die wêreld"? Hoe verloor mens nie moed teen so groot oormag nie?
Iemand het een keer vir my gesê die Bybelse karakter Dawid sou 'n sielkunde studie in die problematiek kon wees. Dawid was nog 'n kind, toe hy van God verneem het dat hy koning sou word. Maar, terwyl hierdie wete (van iets meer) in sy gedagtes was, is hy van dag tot dag (vir jare) letterlik soos 'n dier in die veld gejag deur mense wat hom wou doodmaak. Hy het dit op 'n manier reg gekry om terselfde tyd fyn besnaar te wees (hy het gedigte en liedere geskryf) en tog ook 'n gedugte vegter (wanneer die situasie daarvoor gevra het). Dit is fasinerend dat een so 'n psige beide uiterstes kon hanteer.
Die Sielkundige
Die antwoord is Prozac.
Haha! Ja, sekere goed deel 'n mens nie.
ReplyDelete