Pages

Sunday, 26 April 2009

’n Droom

Ek het vandag wakker geskrik uit ’n droom met intense buikwroegende emosie. Waarskynlik sou dit as ’n nagemerrie kon geld, maar daar was geen monsters of moordenaars nie; slegs ’n skielike oorweldige besef van verdrietige teenspoed.

Wyl ek baie keer gewone drome het, soos gewone mense, droom ek ook baie keer stories; narratiewe waarin ek nie ’n karakter is nie. Dit was so ’n droom wat ek vandag gehad het. Groot dele van die droom kan ek nie onthou nie en daaroor is ek baie spyt want ek onthou wel dat dit ’n goeie storie was wat ek baie graag sou wou neerskryf. Wat ek gaan vertel is die laaste deel van die droom wat ek wel onthou.

’n Jong seun gaan saam met sy pa en ma hospitaal toe. Daar’s niks nuuts daaraan nie. Sy ma is kronies siek en hierdie hospitaalbesoeke het ’n gereelde gebeurtenis geword. Sy pa is ’n motorwerktuigkundige met geweldige trots op sy werk. Hy’s ’n perfeksionis wat nooit iets ongedaan laat nie. Elke boutjie is vas gedraai, nooit is ’n skroefie vermis nie. By die hospitaal word die seun die kar se sleutel gegee om iets in die motor te gaan doen. Ek vermoed dit was om die motorligte af te skakel. Die seun maak die bestuurdersdeur oop en sien dat die binne paneel van die motordeur nie op is nie. Sy pa het aan die deur gewerk, dalk aan die venster meganisme gewerk, maar nooit die die paneel terug gesit, die boudjies vas gemaak, die skroewe in plek gedraai nie. Op daardie oomblik oorval skokkende insig hom. Sy pa, die alewige perfeksionis, het moed op gegee. En hy besef, sy ma se situasie is hopeloos. Sy gaan sterf.

Die skokkende insig tref my met sulke geweld dat ek wakker skrik uit my droom met ’n konvulsie. Die ontbrekende paneel wat as simbool dien vir sy pa se oorgee aan die onvermeidelike komende sterwe van sy ma tref my met sulke intensiteit dat ek selfs nou, in terugskoue, die emosie in my lyf voel.

Hoekom hierdie erge impak op my? Duidelik het die droom – die storie van ’n seun wat sy ma verloor – met my te make. Die paralelle is opsigtelik. My ma was vir baie jare kronies siek en het uiteindelik aan haar siekte ontkom. My pa was as ambagsman ’n motorwerktuigkundige, alhoewel hy in beroep ’n besigheidsman was. Was daar so ’n oomblik wat my pa moed op gegee het, geen hoop meer gehad het nie, en my ma se sterwe as simbool in sy dade sigbaar was? Ek kan nie so gebeurtenis onthou nie. (Dalk is dit onderdruk.) Wat is die betekenisvolheid van hierdie besef wat my so ontstel het?

Enige lesers wat lus het om my droom te analiseer / interpreteer? Ek weet daar is ’n sielkundige wat hierdie blog lees en ook ander met baie insig.

No comments:

Post a Comment