Pages

Thursday, 23 April 2009

Die voetewassing van (die intertekstuele) Jacob Zuma

Hierdie is ’n essay wat ek lank terug (verlede jaar) vir P~YP! geskryf het. Onwetend aan my kant van die wêreld was daar op dieselfde tyd politieke onrus op kampus, en was die redaksie effens skrikkerig oor die reaksie wat my essay kan ontlok. Ek het toe besluit om nie die essay te plaas nie, maar het toe ’n ander essay geskryf oor "self-censorship" wat ek dink goed afgegaan het.

Wel, met die onlangse verkiesing en die (religieuse) Zuma se naam op almal se lippe het ek gedink dis nou dalk ’n goeie tyd om dit weer af te stof. Nes die "Size doesn't matter, or does it?"-essay kry "Voetewassing" nou maar ’n plekkie hier.

Die voetewassing van (die intertekstuele) Jacob Zuma


Vroeër vanjaar het ek ’n bybelstudie groep gefassiliteer. Die onderwerp: die buitengewoonheid van Jesus se leer. Dié oggend gesels ons oor van Jesus se mees radikale stellings – “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg...” Ek gaan met die ry af en vra: “Wie is jou vyand?” Nie een kan aan ’n vyand dink nie. Ek besluit om dit maar vanuit ’n ander (en minder vyandige) hoek te benader. “Goed dan, van wie hou jy regtig nie?” Dit gaan veel makliker. Twee name kom op, Jacob Zuma en Robert Mugabe. En toe laatval ek die bom: “As ons Jesus reg verstaan, dan sê Hy hier dat ons vir Jacob Zuma en Robert Mugabe moet lief hê.”

Later begin die kunstenaar in my wonder oor hoe om hierdie radikale leer van Jesus visueel te illustreer? Een van Jesus se vyande was seker Judas wat hom verraai het. Hoe het Jesus vir Judas hanteer? Hy het sy voete gewas en hom laat deel hê aan die nagmaal – simbole van sy vergifnis. En so ontstaan die skets Die voetewassing van Jacob Zuma . Ouderling Pretorius is ontsteld en sê vir my dis godslasterlik. Hy’s opgeblaas en rooi in die gesig. Ek ignoreer hom. Ouderling Klopper is minder emosioneel, maar is die skets ook teengekant. “Jacob Zuma is lankal nie meer ’n mens nie,” sê hy vir my. “Zuma is ’n ikoon vir ’n politieke ideologie.” En na Ouderling Klopper luister ek. “Jy is besig met ’n politiese stelling, nie ’n religieuse stelling nie.”

In my skets het ek Jesus se liefdesbeginsel probeer illustreer, maar my illustrasie faal omdat dit onmoontlik geword het om vir Jacob Zuma (en slegs Jacob Zuma) te teken. Jacob Zuma het ’n nes geword vir verskeie idees. Teken jy Jacob Zuma, teken jy óók alles wat met hom geassosieer word: hofsake oor korrupsie, verkragtingsaantuigings, VIGS, storte, veelwywery, die struggle, die ANC, die ANC-jeugliga en hulle moorduitsprake, en selfs ’n toekomstige (distopiese?) Suid-Afrika met Zuma as moontlike president. In ’n aanlynaplikasie wat metatekstuele verbande opspoor tik ek “Jacob Zuma” in om te sien hoe hy op die kuberruimte met ander ikone skakel. Sy naam spring op in Houstan; Tokyo; Uganda. Dit is onvermydelik – Zuma het ’n intertekstuele nodus geword.

Maar ek verbeel my ek is ’n martelaar en herroep nie die skets nie. Jesus kan ook die sondes van die korruptes en regverdiges, die verkragters en liefdadiges, die siekes en gesondes, die vuiles en skones, die getroues en ontroues, die opstandiges en gehoorsames, die aktiviste en pasifiste, die ANC-jeugliga en die toekomstige presidente van Suid-Afrika weg was. So bly die uitdaging staan: Julle moet jul vyande liefhê. En dit, sou ek sê, is menslik onmoontlik. Daarom is die Christelike geloof nie ’n menslike religie nie, maar ’n goddelike een: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.”

...ooOoo...

’n Ander kunstenaar (Lars Justinen) het ’n paar jaar gelede ’n
portret geskilder waar Christus die voete van Osama Bin Laden en ander wêreldleiers was.

No comments:

Post a Comment