Pages

Tuesday, 24 March 2009

Boekresensie: Die Mugu

Ek het gister my resente moltreinboek klaar gelees. Die Mugu (1959) van Etienne Leroux word beskou as een van die klassieke tekse binne die Afrikaanse kanon. Net voor my onlangse vertrek terug na Korea het ek my kopie gekry by ’n vriend en Afrikaanse dosent aan die Noordwes-Universiteit. Ek was aanvanklik aangeraai deur ’n professor aan die selfde departement om Die Mugu te lees, omdat sy van mening was dat ek dit interesant sal vind weens my meestersgraadnavorsing wat gehandel het oor “Die skep en voorstelling van ’n postmoderne karakteridentiteit in prosa”.

Nou ja, wat kan ek sê omtrent díe roman? Inderdaad ’n teks van sy tyd. Leroux se fyn observering van die mense teen die laat 1950s is baie goed. Buiten vir Gysbrecht Edelhart, die hoofkarakter, is daar seker twee ander karakters wat baie belangrik is weens hulle polariteit. Die een is Julius Johnson, die besigheidsman en simbool vir orde. Daarteenoor staan Juliana Doepels – die (mal?) anarchis. ’n Ander tweespalk is Gysbrecht, ’n middeljarige man, teenoor die eendsterte (rebelse jongmense).

Die Mugu gee ’n mens ’n verassende blik op Kaapstad se mense rondom daardie tyd. Natuurlik is die karaktes stereotipes, maar daar is waardevolle waarnemings te herken in stereotipes. ’n Genotvolle storie, wat teen die einde vir my bietjie begin sloer het. Nietemin ’n boek wat elke Afrikaanssprekende een of ander tyd behoort te lees.

Die karakter Juliana Doepels, met haar pruik, grootbrille, aasvoëlgedaante en apokaliptiese sentiment is mynsinsiens een van die mees interesante karakters in die Afrikaanse literatuur. Haar klimaktiese toespraak, waarvan ek hieronder seleksies weergee, is my gunsteling deel van die boek. Moontlik omdat ek self bietjie van ’n anarchistiese streep het.
Op ’n seepkissie het Juliana Doepels, omring deur die Parademengelmoes, haar toespraak begin. Die kring om haar word groter namate nuuskieriges bykom en spoedig deelneem aan die honende tussenwerpsels van goedige gejou. Sy het haar spesiaal vir die geleentheid verklee en lyk sprekend op Sister Carrie met haar outydse swart rok.

"Ek het ’n studie gemaak," skreeu sy. "Ek het die saak van al die kante bekyk en tot die slotsom gekom dat in die lig van julle teenswoordige denke julle nooit sal verander nie. Elkgeen van julle is ’n klein tronkie wat die gees gevange hou en Julius Johnson en sy soort is die bewaarders. In die aand gaan julle slaap, in die oggend staan julle op, gedurendedie dag werk julle sonder gevoel en toewyding. Julle sit in chroomkafees en sien Hollywoodmatinees op Saterdae. Party can julle drink sjerrie en dans die kwêla; die ander ooreet hulle met vleis en geelrys en bewaard die valse sedes. Julle teel soos konyne aan en siektes rooi julle nie eens meer uit nie."

"Julle word nie uitgeroei nie want julle is self ’n siekte. Julle versprei soos kieme en besmet die aarde. Lank leef die atoombom! Lank leef radioaktiwiteit! Mag julle spoedig uitbrand en die aarde in vrede laat."

"Toe julle minder was, toe daar ruimte was, het die natuur oorheers en was julle grappig, pateties, kleurryk en selfs indrukwekkend. Maar nou is julle ’n vloek, ’n onkruid wat dreig om die wêreld in te neem. Julle teer op alles -- op die hele natuur. Julle vrye wil is verstomp. Julle is slagoffers van ’n illusie en so blik soos vlermuise. Julius Johnson is die hoofvlermuis, bewaarder van die orde, die skerp kop van die doellose piramide. Vervloek is julle! Ek, Juliana Doepels, beaam die vloek wat alreeds op julle rus!"

"By elkeen van julle mag nog miskien die kiem van teenstand, die laaste flikkering van die oorspronklike trots wees. Maar krap ’n bietjie, stel die eis, en julle kollektiewe patroontjies kruip uit, gryp die liggaam en draf saam met die miljoene miere rigtingloos en vernietigend oor die moeë aarde. Lank leef julle sedes! Lank mag julle die sekes verkrag met vroom gesigte! Lank leef julle liefde sodat selfs die kinders in verset kom en met selfbespotting, selfkastyding, aangetrek soos narre, die noodlot kortpad tegemoetgaan! Lank leef die orde wat julle verander het van ’n middel vir selfbeskerming tot ’n tronk vir almal! Lank leef vryheid wat julle in ’n spotwoord omgeskep het! Lank leef die held wat julle tot julle ewebeeld afgetakel het! Lank leef die God wat julle van voor af kruisig!"




...ooOoo...

Joseph Heller’s Portrait of an Artist, as an Old Man (2000) will probably be my next subway read.

No comments:

Post a Comment