Pages

Wednesday, 18 February 2009

Sonneblom


Daar’s baie blomme om jou mee te vergelyk,
maar eens woorde droog word soos sand
of ink klaar raak nes sap uit ’n vrug,
kies ek dan nou ’n sonneblom –
geel soos ’n vinkhaantjie flink aan die werk,
aan’t kasteel bou, wat Goddank klou
aan ’n slanggroen takkie soos ’n baba bobbejaantjie
aan teertepel en fisantgrys pels.
Geel soos die son se brandende oorloop
aan’t warm maak soos sussende arms
soos gemmer en songeel heuning
en smerend nes olyfolie-liefde.
Lawageel soos die aarde se goue bloed,
bruisend soos die hartstog
ontroerend soos heilige genade
verkwikkend.
En met jou gesig na bo getilt
soos ’n kind wat reën in haar mond vang
al spinnende nes mot en kers
nes planeet en son
nes verliefde en geliefde
nes ons in God en God in ons.
My lief – jy’s ’n sonneblom.

No comments:

Post a Comment