Ek het besluit om vir eers my lees van Die Nihilisme te staak. Aanvanklik het ek gedink ek sal deur die boek swoeg, dalk raak dit beter. Wel my hoop is op. Ek is twee-derdes deur die boek, en daar is steeds bitter min gesê oor “ons tyd”. Goosen kerm steeds net voort oor die “dramaturgie” en die “dramaturgiese gemeenskap”. Ek dink wat my die meeste frustreer van die boek is die misleidende titel. ’n Baie meer gepaste titel sou “Die Dramaturgiese Gemeenskap: Notas van toeka tot nou” gewees het.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, Die Nihilisme het sy oomblikke en ek het ’n paar paragrawe in my kopie met potlood onderstreep. Nietemin, daar is vir my net te veel wat my dwars in die krop steek, dat ek nie lus het om verder te lees nie. Dis soos om koffie te drink en bewus te raak dat die melk suur is. Hoe langer jy daaraan drink hoe slegte raak die koffie.
Die grootste hindernis vir my omtrent die boek is Goosen se keuse van die dramturgie as geskikste metafoor om oor die huidige tydsgees te praat. Ek dink nie die dramaturgie is die beste keuse nie. Daarom frustreer die lees van die boek my. Ons stem oor die basiese aannames nie saam nie, so ’n verdere diskoers is feitlik onmoontlik.
Goosen vind, byvoorbeeld, ’n kohesie tussen die filosofiese dramatologie (waaroor hy gaande is) en die hoë Middeleeue; en sê dan dat die “dramatologie het ook ’n sin vir kontinuïteit met die verlede...” Dit bring hy in kontras met die “modernistiese en postmoderne atomisme” (159). Selfs ’n beginner in die Postmodernisme behoort te kan uitwys dat Goosen hier iets mis het. Die Postmodernisme bied in sy essensie kontinuïteit met die verlede weens sy inherente inklusiewe aard. Goosen noem die Middeleeue ’n “gemeenskap van gemeenskappe”, mynsinsiens ’n baie akkurate beskrywing van die Postmodernisme – iets wat Goosen óf ignoreer óf onkundig oor is.
“Die modernistiese dualisme”, sê Goosen, “slaan om in ’n postmodernistiese monisme...” Ondanks sy retoriek is ek geensins oortuig dat die Postmodernisme ’n “monisme” tot gevolg het nie. Hy skryf verder dat “...die postmodernistiese inploffing van gemeenskap in ’n indifferente eenselwigheid...” ontaard. ’n Ondersoek na die Postdmodernisme, soos te sien in die hedendaagse mense, toon mynsinsiens glad nie “’n indifferente eenselwigheid” nie.
Goosen het ook ’n hinderlike manier om stellings te maak, dan ’n vraag te vra, en dan homself te antwoord. Elke af en toe kry ’n mens hierdie hangende vraagsnedes, soos “Waarom?”. Aan wie vra hy die vraag? Aan homself? Aan my? Ek weet nie of die bedoeling is om die leser meer betrokke te kry nie, maar ek voel effens beledig dat die outeur gedurig vrae namens my vra – soos televisie komedies met ingeboude lagsnitte, wat my wil voorsê wanneer ek iets snaaks moet vind.
Onthou jy die definisie van Goosen vir die Modernisme wat ek in die vorige deel aangehaal het? Wel ek het intussen op ’n beter definisie van die Modernisme deur Goosen afgekom:
“Die moderniteit is in ’n gewisse sin van die woord niks anders as die isoleringsakte waarvolgens die wil uit sy samehang met die rede geabstraheer en tot ’n selfstaande werklikheid verabsoluteer is nie.”Dis nog steeds nie geskik vir ’n verklarende woordeboek nie, maar ek dink dis die beste beskrywing in die boek te vind. Indien jy hierdie definisie moeilik vind om te herkou; wel, dus hoe die hele boek tot dusver is.
Dis sekerlik moontlik dat die trefkrag van die teks juis in daardie laaste derde lê waarmee ek moed op gegee het; soos N T Wright, die Biskop van Durham, op ’n keer gesê het: ’n boek is soos ’n boom, die wortels moet stewig gelê wees voordat die boom ordentlik kan staan, waarop sy pa gereageer het: Ek het nog altyd meer van die boonste blare gehou. Nietemin, ek gaan nou vereers my lees van Die Nihilisme staak. Ek kan nie sien dat die oorblywende derde van die teks my behoefte gaan vervul nie en waar ek in die verlede uitgesien het na my moltreinlees, sien ek deesdae op daarna. Dalk sal ek tog eendag die res lees. Ek hou nie daarvan om dinge onafgehandel te laat nie.
Wat ek geniet het van die boek is die goeie gebruik van Afrikaans as wetenskapstaal. Goosen verdien ’n pluimpie daarvoor. Dit is ook sekerlik ’n baie goeie boek vir enige iemand wat belangstelling in die filosofiese dramaturgiese tradisie het. Volgens die uitgewer, Praag, heers daar "ongekende belangstelling in Die nihilisme wat as ’n filosofiese kragtoer bestempel word, asook een van die die grootste intellektuele publikasies tot nogtoe in Afrikaans". Ek haal my hoed af vir beide Goosen en Praag om so ’n projek in Afrikaans te geonderneem het.
Intussen het ek vir my ’n C. S. Lewis-omnibus gekry wat The Abolition of Man insluit wat ek reeds begin lees het. The Abolition of Man sal waarskynlik my nuwe leesteks vir my moltreinritte wees.
Hi
ReplyDeleteEk het jou resensie en indrukke van "Die Nihilisme" behulpsaam gevind en geniet. Is jy steeds woonagtig in Korea? Ek is opsoek na hierdie boek vir Meesters navorsing en sal graag die boek by jou wil koop.
My kontak besonderhede is cvn14771403@gmail.com
Ek verneem graag van jou.
Met 'n kopknik,
CvN