Pages

Wednesday, 12 November 2008

Boekresensie (Deel 1): Die Nihilisme

Danie Goosen se filosofiese rede in Die Nihilisme: Notas oor ons tyd (2007) is nie ’n maklike lees nie. Ek is sowat ’n derde deur die boek en daar is soveel dinge waarop ek wil reaggeer dat ek besluit het om maar solank my resensie oor die boek te begin. Ek het besluit om my resensie oor Die Nihilisme in dele te doen; hierdie is Deel 1.

Soos feitlik almal bewus is, lewe ons in die sogenaamde Postmodernisme. Ek beskou myself goed vertroud met die Postmodernisme. Die titel vir my meestersgraadverhandeling is: “Die skep en voorstelling van ’n postmoderne karakteridententeit in prosa”. Vir my studie het ek baie boeke omtrent die postmodernisme gelees. Byna al die boeke wat op daardie stadium in die universiteitsbiblioteek was, wat enigsins met postmodernisme te make het, het ek onder oë gehad. Baie daarvan het ek deurgelees. Let wel, deurgelees; nie bloot gespoedlees (“scan”) nie.

Ek het groot ’n belangstelling in hierdie onderwerp en dis om hierdie rede dat die onderopskrif van Goosen se boek, “notas oor ons tyd”, my aandag getrek het. En inderdaad, Goosen maak dit vanaf die openingsmomente duidelik dat sy narratief gaan handel oor die Modernisme en Postmodernisme en hoedat hierdie tydsgeeste Nihilisme tot gevolg het.

Dit is allermins hoekom ek die boek gekoop het, en nou begin lees het.

Wel, ek het nou al oor die honderd en dertig bladsye gelees en moet getuig dat Goosen nog bitter min te sê gehad het oor ieder die Modernisme, nóg die Postmodernisme. Sover het Goosen feitlik die heeltyd gefokus op die dramaturgie as metafoor vir die wêreld. Bladsy na bladsy swoeg ek deur die ontwikkeling van die dramaturgie, die dramaturgie as filosofiese motief, die dramaturgie as geskikte metafoor vir die wêreld, en so meer.

Ek kan dit vir Goosen in drie reëls met behulp van Shakespeare opsom (uit Jacques se monoloog in die verhoogstuk, As You Like It [2/7]):
All the world's a stage,
And all the men and women merely players:
They have their exits and their entrances;
Ta-daa!

Kan ons nou tot die punt kom asseblief?

Nee ons kan nie. Ek begin nou eers, op bladsy 137, met hoofstuk drie: Die dramaturgiese gemeenskap.

So wanneer ons uiteindelik by die “notas oor ons tyd”, maw die Postmodernisme, gaan uitkom weet nugter alleen. Ek kan nie eers in die inhoudsopgawe soek vir die relevante hoofstukke, as doelwitte om na uit te sien nie, want daar is nie ’n inhoudsopgawe nie!

Maar kom ons kom terug na wat Goosen wel sover oor die Modernisme en die Postmodernisme te sê gehad het. Hy begin in die eerste paragraaf van die hoofstuk een met die volgende stelling:
“So het die modernisme vanaf die 1960’s en 70’s nie net die epog van die postmodernisme geword nie, maar ook die epog van die post-religieuse, die post-metafisiese, die post-historiese, die post-politieke, die post-humane, die post-etiese en die post-estetiese” (Goosen, 2007:22).
Hierdie enkele sin sê vir my dat Goosen dalk teoreties die Postmodernisme vir homself gekonkretiseer het, maar dat hy heeltemal uitvoeling is met die postmoderne mens. Al daardie “post”-samevoegings van Goosen is dalk waar vir die Modernisme, maar ek dink glad nie so geldig vir die Postmodernisme nie. Die Modernisme was inderdaad die epog waarin religie ontmag is, die wetenskap die metafiese ontsê het, en die estetiese geëindig het in witverf op ’n wit doek, of ’n leë musiekblad; in lyn met Goosen se gevolgtrekking – nihilisme.

Dit is moontlik dat ek Goosen verkeerd lees, maar my verstaan van die Postmodernisme is geensins dat dit nihilisties is, soos wat Goosen “post-” beskryf nie. Terwyl die Modernisme religie ontklaar gemaak het, het religie in die Postmodernisme, mynsinsiens, weer herleef. Nie noodwendig in die vorige ortodokse strukture (maw die kerk) nie, maar as iets meer organies en natuurlik. Die meeste hedendaagse mense is nie Modernisties Ateïsties nie. Vir die meeste mense bestaan daar ’n metafisiese. Die verskil is bloot ’n verskuiwing vanaf aanmatige gestruktureerdheid, tot ’n meer natuurlike, of intuïtiewe “geestelikheid”. Vra die standaard Generarsie X’er of sy godsdienstig is, en jy sal hoor dat sy sê, nee nie godsdienstig nie (ek gaan nie kerk toe nie), maar spiritueel (“not religious, but spiritual”).

Ek het nog baie te sê oor daardie een sin van Goosen, maar laat ek aan beweeg.

Iets waarmee ek saam stem is Goosen se idee dat die postmoderne mens ’n tuisteloosheid ervaar – ’n tipe wêreldverlies. Maar dan gaan hy verder deur te beweer dat die Postmodernisme sonder gemeenskap is. Hiermee stem ek nie saam nie. Daar is beslis gemeenskappe (veeltallige gemeenskappe!) in die Postmodernisme, meerso as tydens die Modernisme. Die groot verskil is dat die Modernisme se gemeenskappe was/is geforseer (óf gereduseer) tot gedwonge sisteme. Daarinteen vorm die hedendaagse (postmoderne) mens spontane gemeenskap gebasseer op gedeelde belange en belangstellings. Die postmoderne mense is deel van verskeie subkulture. Neem myself as voorbeeld: Ek het ’n historiese kulturele gemeenskap, maar ek is ook deel van verskeie ander subkulture; belangstellingsubkulture, onder meer ’n Taekwon-Do en krygskuns subkultuur, ’n parkour-subkultuur; verskillende Internetgebasseerde gemeenskappe (byvoorbeeld die blogosfeer); ek is selfs in gemeenskap met mense via die Internet wat ek nog nooit fisies ontmoet het nie. Die Postmodernisme is geensins ontneem van gemeenskappe nie – inteendeel. Die verskil is bloot dat dié gemeenskappe nie meer lyk soos vroeër nie. Die tradisionele familiekring is van minder belang as die vriende kring. Nasionalisme maak plek vir globale interaksie met mense wat ’n gedeelde deler het. En so aan.

Wat sy verdere ontleding van die Postmodernisme betref, fokus Goosen onder andere op die linguistiese aard van die Postmodernisme, en haal Gadamer aan wat sê: “...this world is verbal in nature...” (Ibid, 72.) Baie postkritiese denkers is dit eens dat die Postmodernisme om taal spil, maar ek wonder of dit ’n genoegsaam omvattende onderskraging van die Postmodernisme is.

Eerder as taalmatig, is die Postmodernisme nie dalk visueel nie? Het die woord nie dalk plek gemaak vir die beeld nie? (Ek wens iemand wat iets te sê het oor die Postmodernisme wil bietjie iets nuuts sê.)

Verdere kritiek op Die Nihilisme, is nie Goosen se rasionaal nie, maar eerder die retoriese uiteensetting en toeganklikheid van die teks. Alhoewel Goosen uit sy pad gaan om dinge soos die dramaturgie te bespreek, los hy sekere van die ander hoofbegrippe in die teks, soos “syn”, grootliks ongedefiniëer. Wanneer daar wel definisies aangebied word, raak dit so abstrak dat dit van wynige waarde is. Neem byvoorbeeld hierdie definisie van die Modernisme: “...die modernisme [kan] beskryf word as dié kulturele geheel van dinge ingevolge waarvan daar nie net ’n abrupte breuk tussen transendensie en immanensie, eenheid en verskil in die werklikheid ingevoer word nie, maar ingevolge waarvan daar tegelyk ook ’n onvermoë bestaan om genoemde breuk tot ’n gedifferensieerde eenheid op te voer” (Ibid., 134, 135). Verbeel jou om daardie definisie vir die Modernisme in ’n woordeboek te lees! Mynsinsiens is so ’n definisie selfs vir ’n filosofiese woordeboek ongeskik.

Tensy jy ’n matige kennis van die filosofie het, twyfel ek of die gewone leser enige maklike invalshoek tot die boek kan hê. Goosen bied eenvoudig nie aan die leser ’n geleidelike oploop tot die teks nie.

Daar is meer te sê, maar ek gaan my vereers met die voorafgaande berus.

No comments:

Post a Comment