soos opvou stoele waggel geknakte tantes
onder goddelike hoë akkerbome en pluk
met lou eensame hande stowwerige akkers
– slakglad – uit die grond. geen sug of kreun
verklap die weiding nie, want die statige gode
gee; al gee hulle suinig en stadig en afsydig.
winter is oppad. sy hurk soos ’n glibberige padda
agter Rusland se berge en hou met wolfteefoë
die moeë tantes dop. haar tong lê afgerol soos
’n kadawer. haar pisnatsnoet stoom. daar is oorlog
in haar wasemde asem.
maar dis die blare wat protesteer. die vurige blare
paradeer soos gouefisanthane; vlamtrosse aap
hardnekkig aan die takke en roep soos shamane
na die son met gekreukelde, geverfde gesigte.
protes tot die dood.
korea is moeg. moeër as die tantes. moeër as die akkers.
moeër as haar verkragte oewers, tot drekklei
en strontsand getrap deur japanese, sjinese, russe,
mongoliërs, jagse amerikaners, arm suid-oos asiërs
wellustig vir die tantes se rys en akkerbredies.
Ek dink ons sal die een gebruik - ons probeer elke uitgawe ander skrywers betrek, so ons wil nie te veel van ons eie goed gebruik nie. mariëtte en wyn
ReplyDeleteEk stem saam. Herinner my net vir die volgende uitgawe watter een ons in gedagte het. Lank lewe PYP!
ReplyDelete