Hi Sanko, ek mis jou!!!
So begin my X se e-pos aan my. Weke lank ignoreer ek dit. Hoe dink ek aan haar en nie aan mislukking nie? 'n Mislukte verhouding, 'n kasteel op sand gebou. Hoe dink ek aan haar en ruik nie haar hare nie, wat soos vars gekneusde appelkose in my neusholtes kom nesmaak? Hoe dink ek aan haar en nie aan my tong wat haar verhemelte, 'n ryp oopgeskeurde koejawel, proe nie? Hoe, en nie aan haar borste soos malmokkies onder my palms nie, óf my palms soos groot motvlerke vyeblaar oor haar pubis, óf my vingers soos 'n kat se stert suutjies al langs haar stuitjie af, óf my grom, jags soos donderweer, in haar nek nie? Hoe dink ek aan haar en word nie brusend, bal my vuiste, kners my tande, en erken dat die liefde – selfs tussen passende mense, mense met verbeeldings, gedeelde godskonsepte, selfde sensitiewe vingerpunte, tonge, lippe – moeilik kan oorleef nie?
Ek mis jou, skryf sy. Sy wat skaars weke na ons opbreek terug in 'n verhouding ingespring het, soos in 'n nuwe baaikostuum. Duidelik was ek net nog 'n blek op haar kerfstok. 'n Besonderse een, troos ek myself, maar nietemin, net nog een kraal gereig aan haar halsnoer. Ek paai myself verder, verlustig my daarin, dat die huidige knaap haar nie kan maak gil van hartstog met 'n blote tong op haar naak palm nie. Dis my prerogatief. Ek as (krygs)kunstenaar wat weet van senuwee en passie, van daardie maagdvliesdun skeidslyn tussen pyn en plesier, van aanval en verdedig, van sensoriese komposisie. Ek vir wie sy gesê het: "Jy soen beter as 'n vrou", ek verbeel my dat sy nooit weer gaan vry soos toe ek en sy gevry het nie; want niemand ken die toorspreuke nie. Woorde val herfsblare, sag soos op sand, in die kronkels van haar siel en waar dit tot lê kom, bot madelieffies. Die liefde sit in my mond en my mond is nou 'n kluis waarvan sy nie meer die sleutel het nie. Hierdie towerstaftong maak nie weer muti in haar kalbas nie.
Maar dit kry my onder – daardie e-pos dreig my tot amnesie. Ek kyk bo-oor die boodskap. Sien dit vir weke nie raak nie. Loop draaie daarom soos die antieke mense om melaatses.
Dit verg uiteindelik Antjie Krog (of is dit Dot Serfontein, soos aangehaal deur haar dogter?) om my aan te spreek. Skrywer, sê sy aan my, skryf. Skryf oor jou lewe. Wat is daar tog anders om oor te skryf? Die lief en die leed. Dié leksis gaan altyd hand-aan-hand: lief en leed. Hoe kan ek dan oor die een wil skryf en nie ook oor die ander nie? As ek oor die liefde wil dig, moet ek ewewigtig ook lamentasies bevers.
So nou skryf ek. Ek skryf die lief en die leed in lang stringe. Derms van die abstrakte hart ryg ek uit, gooi dit op my skoot, op my sleutelbord, op die rekenaarskerm, op die Internet. So neem ek wraak. So sus ek myself. So genees ek. So neem ek afskeid met 'n kru klam koeksistertong.
Hierdie is werklik pragtig geskryf! Woordkuns!
ReplyDeleteDankie Boer.
ReplyDelete