Wat is dit? Wat presies is dit wat maak dat ek ’n pen nodig het? Uit my pad uit gaan ek, ver ente op ’n afdraai grondpad, om ’n pen te kry. Of ’n potlood met ’n sagte kern wat donker kan klad. Die kontras van betekenisvolle woord moet duidelik kan uitstaan op die lewelose papier. Die sketslyn moet die leë blad skroei; dit pynig tot syn.
Is dit my godslasterlike ambisie om ex nihilo iets voor te bring? Of is dit júís die godsvrug, die godsbeeld, die mens ingeasem wat op soortgelyke manier wil terug inblaas en níks tot íéts baar.
Wat maak dat ek myself ontbloot? My siel uit masterbeer vir vriend, vyand, apaat om aan te ruik? Sê: Kyk, hier is ek. Hier is die rand van my hart. Hier lê my broosheid soos borste wat soog. Hier in die skuilte van my lies, hier diskant my roes-chakra, híér borrel my passies – ’n sondige en heilige broeisel in konflik. En kyk hier, hier waar my oog van bruin na groen migreer, dis hier waar my gewete met ’n knop-in-die-keel bepeins. En sien jy daar? En daar! En het jy dít opgelet? En ag foeitog, kyk na my noes skrotum wat onverpoos miljoene potensiële nageslagte fabriseer – verniet. Ek het nie planne om kinders te vader nie.
Wat is dit presies wat maak dat ek ’n sleutelbord nodig het?
Wat is dit wat maak dat 'n leë notaboek my in vervoering bring? En dan dadelik 'n pen laat vasvat?
ReplyDeleteDie skeppingsdrang darem...
:-)
ReplyDelete