Thursday 28 September 2017

'n Radio kuier met Lena Park

Ek het vanaand vir Lena Park ontmoet. Sy is ’n Amerikaans-Koreaanse sangeres en liedjieskrywer wat veral gewild in die laat 90s en vroeë 2000s was, en het seker meer as tien albums vrygestel. Sy is huidiglik ’n omroeper by KBS World Radio en dit is waar ek haar ontmoet het. Sy het ’n program genaamd “One Fine Day”, elke weeksaand, en op Woensdagaande is daar ’n segment “Aliens in Seoul”. Die titel is ’n tong-in-die-kies verwysing na Sting se liedjie “Alien in New York”. Ek was genooi as gas vir die “Aliens in Seoul” segment vanaand om bietjie saam met Lena te gesels oor my lewe hier in Korea. Ons het gesels oor die redes hoekom ek Korea toe gekom het, en wat maak dat ek steeds hier woon en ander interesanthede. Byvoorbeeld, ek het onder andere genoem hoe bittersoet ironies dit vir my is om haar te ontmoet, omdat my blootstelling aan haar en haar musiek was via ’n eks van my wat ’n groot aanhanger was. ’n Liedjie wat ek aangeraai het om na te luister op die program was juis ’n song op Lena Park se laaste album Parallax, wat ek as ’n geskenk vir my eks gekoop het, toe ons nog saam was. Dit was ’n heerlike kuier, en Lena en die vervaardiger het genoem dat hulle eintlik weer met my op die lug sal wil gesels, omdat daar nog so baie was waarby ons nie uitgekom het nie. Alhoewel die krygskunste ’n groot rede is hoekom ek Korea toe gekom het, het ons skaars daaroor gepraat vanaand, met die gevolg dat dit moontlik ’n fokusonderwerp mag wees vir ’n toekomstige radiogesprek. Hoe ookal, dit was ’n lekker ervaring om weer op die radiogolwe te surf. Die program sal volgende Woensdag, 4 Oktober 2017, uitgesaai word en dan ook daarna aanlyn op die KBS World Radio webblad geluister kan word, en ek dink ook vanaf iTunes afgelaai kan word.